Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - As 'n Springbok-rugbyspan net uit spelers van skole saamgestel kon word, sou George beslis 'n paar aanspraakmakers gehad het.
Altesaam vyf spelers van Hoërskool Outeniqua het die afgelope naweek vir die SA skolespan en die SA skole A-span in Kaapstad uitgedraf. Die SA skolespan het die SA skole A-span met 57 - 27 kafgedraf.
'n SA LSEN-span is ook na die onlangse LSEN Cravenweek (Learners with Special Education Needs) gekies en twee leerders van Olympia Vaardigheidskool is in die span opgeneem. Ruan Swart het vir die SA skolespan gespeel, terwyl Antonio Bruiners, Camden-Jay Schoeman, JT Strydom en Dewald Gerber vir die SA skole A-span gespeel het.
Schoeman was die kaptein van die SA skole A-span. Bruiners en Gerber het vir die SA skolespan agter die doellyn gaan kuier en Swart vir die SA skolespan.
Jaco van Rensburg, afrigter van die SWD o. 18 Cravenweekspan, het Dinsdag gesê die skool is baie trots op die spelers en hulle het beslis die potensiaal om beroepsrugby te kan speel.
Drie van die spelers sal weer aanstaande jaar vir die eerste span kan speel. Die skool is aanstaande jaar 100 jaar oud en gaan die o.18 Cravenweek aanbied.
Camden-Jay Schoeman in aksie tydens die Cravenweek-toernooi. Foto: verskaf
Toekomstige Springbokke?
Gerber (17) wat in gr. 11 is, en weer volgende jaar beskikbaar is vir sy skool se span, het gesê hy sal graag eendag 'n loopbaan van rugby wil maak.
Strydom (17), gr. 11-leerling wat heelagter speel, het gesê hy sal ook na skool sy rugbyloopbaan wil voortsit.
Bruiners (17), wat in gr. 12 is en buitesenter speel is van voorneme om aanstaande jaar in 'n rekenkundige rigting te studeer. Hy sal beslis ook professioneel rugby wil speel.
Schoeman (17), wat agsteman speel en in gr. 12 is, het planne om aanstaande jaar te gaan studeer en ook aan 'n rugbyloopbaan te bou.
Ruan Swart (17) is in gr. 11 en speel loskopstut. Hy gaan ook aanstaande jaar rugby speel. Na skool wil hy verder studeer en net soos sy spanmaats ook rugby op beroepsvlak wil speel.
Al vyf die spelers was dit eens dat hulle graag eendag vir die Springbokke sal wil uitdraf.
VIDEO: Kaptein van SA skole A span praat
VIDEO: Afrigter van SWD 0/18 Cravenweek oor spelers se prestasies.
LSEN Cravenweekspan
Stanley Kruger, hulpafrigter van die LSEN Cravenweekspan, het gesê dit is 'n groot eer vir die twee seuns van Olympia om vir die nasionale span gekies te kon word.
Gewoonlik speel die span 'n wedstryd tydens die Akademie-week, maar dit kon nie vanjaar gebeur nie. Dis nie uitgesluit dat 'n wedstryd later vanjaar gespeel sal word.
Alvyn Antonie (18) was vanjaar kaptein van die SWD LSEN Cravenweekspan. Hy het vanjaar agsteman gespeel en is baie trots om nasionale kleure te kon verwerf.
Hy het voorheen sokker gespeel, maar Kruger het hom aange-moedig om rugby te speel.
Hy is van voornemens om beroepsrugby te speel en sal graag vir die Blou Bulle wil uitdraf.
Ell-Dee Wildeman (18) het vaskopstut gespeel Hy was baie bly om in die SA span gekies te word. Ook hy sal eendag professioneel rugby wil speel en wel vir die Stormers. Beide is vierde jaar leerders by Olympia.
VIDEO: Olympia se trots
VIDEO: Hulpafrigter gesels
Die Kwaggas se trots. Antonio Bruiners (SA skole A-span) Dewald Gerber (SA Skole A-span), Jaco van Rensburg, afrigter van die SWD o. 18 Cravenweekspan Ruan Swart (SA skole), Camden -Jay Schoeman (SA skole A-span) en JT Strydom (SA skole A-span).
Olympia Vaardigheidskool se trots. Alvyn Antonie (links) en Ell-Dee Wildeman (regs) wat gekies is vir die SA LSEN-span. By hulle is Stanley Kruger, hulpafrigter van die LSEN Cravenweekspan. Foto's: Eugene Gunning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'