Mzo Dyantyi, skrumskakel van Progress, word onseremonieel deur twee spelers van Crusaders omgedop in Saterdag se kragmeting in Parkdene. Foto's: Hugo Redelinghuys
SUID-KAAP NUUS - Ná twee agtereenvolgende nederlae in die suidelike afdeling van die SuperSport-uitdaagreeks het die Arende-afrigter, Rynhard van As, 'n paar veranderinge aangebring aan sy span wat die Boland-Kavaliers Vrydagaand op Outeniquapark aandurf.
Twee is gedwonge veranderings weens beserings terwyl drie spelers kans kry om hulself op dié vlak te bewys.
Adi Jacobs (vleuel) het harsingskudding teen die Grens-Bulldogs opgedoen en sal vir 'n week of twee moet rus.
Maar die groot kopseer is die ernstige nekbesering wat die haker, Jacques Vermaak, opgedoen het wat hom vir 'n paar maande op die kantlyn kan hou. Hy sou gister 'n skandering van sy nek laat doen het.
Charles Radebe is op vleuel in die beginspan opgeneem na hy van 'n besering herstel het. Radebe sal beslis meer slaankrag agterlangs gee.
Drie spelers wat 'n eerste kans in die beginspan kry is Justin Bhana (vleuel), Dillon Snel (skrumskakel) en Daniël Maree (agtsteman).
Die veelsydige losvoorspeler, Thor Halvorsen, begin op die plaasvervangerbank, ook na 'n lang besering.
'n Klubspeler wat weekliks vir Progress uitblink, Brianston Booysen, is beloon met 'n plek op die plaasvervangerbank. Hiermee stuur Van As 'n sterk sein uit dat die gekontrakteerde spelers se plekke in die span nie in sement gegiet is nie en dat hy bereid is om sy vlerke te sprei om belowende klubspelers wat uithalerspel lewer in die strukture te betrek.
Van As het aan die George Herald gesê hoewel hy, ter wille van kontinuïteit, nie graag aan sy span wil torring nie, moet hy aan almal 'n regverdige kans gee om hulself te bewys.
"Deur nuwe bloed in te bring na twee agtereenvolgende nederlae kan dalk net die gewenste uitwerking tot gevolg hê.
Dié spelers is honger en bring 'n nuwe energie na die span."
Van As sê die nederlaag met 42-28 teen die Grens-Bulldogs maak seer, veral omdat die Arende weer puik veggees getoon het en telkens teruggeveg het wanneer hulle met die rug teen die muur vasgekeer was. "Ons was binne die eerste tien minute met 10-0 agter, maar die spelers het mooi teruggekom."
Teen rustyd het die Arende met 19-14 voorgeloop.
Hy reken talle ongedwonge foute en swak verdediging het die Arende die wedstryd gekos.
"Wat kommerwekkend is, is hoe maklik ons punte afstaan onmiddellik nadat ons punte aangeteken het.
Dis iets waaraan ons die week tydens oefeninge baie tyd bestee het. Ook ons verdediging het baie aandag gekry, maar dit help nie jy oefen alles vooraf perfek en in 'n wedstrydsituasie val alles plat nie."
Van As is lugtig vir die Boland-Kavaliers wat hy as "gedug" beskryf.
Die WP het verlede Saterdag gesukkel om hulle met 35-28 te troef en dit behoort vir die Arende 'n duidelike waarskuwing te wees dat 'n moeilike tuiswedstryd op hulle wag.
"In die kompetisie is daar nie iets soos 'n maklike wedstryd nie.
"Dit het die Grens duidelik bewys."
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'