RUGBYNUUS - Die voormalige Springbok-agterspeler en hoofafrigter van die Northam Rhinos, Bevin Fortuin, is Donderdagmiddag, 11 September, oorlede.
Die 46-jarige Georgiet het kort voor ’n oefensessie met die Rhinos vermoedelik ’n hartaanval gehad.
Ben Brinkhuis, president van die SWD-rugbyunie, het aan Group Editors se Hugo Redelinghuys gesê die nuus was ’n groot skok vir die SWD-rugbygemeenskap. “Ons is verbyster. Dit voel vir my of ek ’n broer verloor het.”
“Bevin was bemind en geliefd in die SWD. Hy het jou altyd met ’n glimlag op sy gesig te woord gestaan. Altyd tyd gehad vir ’n grappie. ’n Ware mens-mens.
“Ons dink in ons gebede in hierdie hartseer tyd aan sy familie en vriende.”
Fortuin het sy professionele loopbaan in 1998 by die SWD Arende se jeugspanne begin en twee jaar later sy senior debuut gemaak.
Foto: George Herald argief
Hy was vir ses seisoene met sy aanvallende speelstyl ’n uitblinker in die Arende se agterlyn. In 2005 het hy na die Vrystaat Cheetahs verhuis.
Hy het vier jaar in Bloemfontein deurgebring en 22 wedstryde in Superrugby vir die Cheetahs tussen 2006 en 2008 gespeel.
In 2009 en 2010 het hy weer vir die Arende in die Curriebeker se Eerste-afdeling uitgedraf, en in 2011 van die unie afskeid geneem.
Fortuin het twee keer vir die Springbokke gespeel - sy toetsdebuut was teen Ierland in 2006, en in 2007 het hy teen Australië in die Drienasies-toernooi uitgedraf.
Ná sy speeldae het hy by die Blanco-rugbyklub in George as spelerafrigter aangesluit en die klub in 2012 na die nasionale klubkampioenskap gelei.
Later dieselfde jaar het hy by die Arende se afrigtingspan aangesluit en is hy in 2013 tot hoofafrigter bevorder.
Hy het die span tot en met die einde van die 2015-seisoen afgerig, voordat hy na Pretoria verhuis het om by die Bulle se afrigtingsstrukture aan te sluit.
Bevin Fortuin ontspan by Views Boutique Hotel in Wilderness. Foto: @BevinFortuin op X.com
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’