RUGBY NUUS - Heidelberg het Evergreens se veldtog in die SWD Super A-klubrugbyliga verlede Saterdag beëindig toe hy dié halfeindstryd in die Pacaltsdorp-stadion met 18 - 13 gewen het.
Met dié oorwinning het Heibi vir die tweede agtereenvolgende jaar na die eindstryd van die topliga deurgedring. Hessequa se bestes sal aanstaande Saterdag, 11 November, teen Groot-Brakrivier op Outeniquapark in George te staan kom om die SWD se klubkampioen vir 2023 te bepaal.
Daar is vooraf wyd bespiegel dat Evergreens, wat die laaste ruk 'n opwaartse kurwe in hul spel getoon het, die groot gunsteling was om die halfeindstryd te beklink. Sy beter posisie op die punteleer en die tuisveldvoordeel het in Evergreens se guns getel, maar dit het nie die besoekers enigsins afgeskrik nie.
'n Sterk wind wat deurentyd gewaai het, was nie ideaal vir vloeiende spel nie. Heibi het verkies om in die eerste helfte saam met die wind te speel en het dié omstandighede goed uitgebuit om Evergreens met hoë lugskoppe te peper. Die tuisspan moes hulle keer ken en is vir lang tye in hul eie half- en kwartgebied vasgepen. Dit was feitlik onmoontlik om teen die wind lang ente veld met lynskoppe te wen en dit het Evergreens vir 'n groot deel van die eerste helfte op die agtervoet gehou.
Heibi se pak voorspelers het die toon aangegee, veral in die skrums, en Evergreens laat les opsê. In die lynstane het dit ook aan beide kante gesukkel met akkurate ingooie hoewel die besoekers hier effe beter gevaar het.
Met rustyd was Heibi voor met 13 - 8 danksy die sterk vertoning van sy agttal.
Evergreens het in die tweede helfte, toe saam met die wind, stukke beter vertoon en Heibi se verdediging behoorlik getoets. Veral in die laaste 20 minute het Evergreens die besoekers se doellyn verwoed aangeval, maar hul verdediging het gehou. Akkurate skopwerk aan Heibi se kant, ten spyte van die sterk wind, was deurslaggewend.
Vir Evergreens is dit neusie verby, maar vir Heidelberg wink daar bekerglorie.
Evergreens se losskakel, Ryan Davids, druk 'n speler van Heidelberg grond toe in 'n poging om weg te kom
'n Speler van Heidelberg probeer deurbars deur Evergreens se Heinrich Mckenzie (links) en Julian Treurnicht. Foto's: Hugo Redelinghuys
Groot-Brak stamp Crusaders op Rosemoor
Rodney Kriga skryf dat dit 'n titaniese stryd was toe Groot-Brak in hul halfeindstryd die tweemalige SWD Premierliga-kampioene, Multisure Crusaders, op Rosemoor met 33- 19 oorwin het. Groot-Brak was halftyd alreeds met 24 - 7 voor op die telbord.
Crusaders het egter net na die begin van die tweede helfte moedig teruggeveg en binne enkele minute Groot-Brak se doelyn oorgesteek om punte aan te teken wat die telling laat krimp het na 24 - 12.
Groot-Brak het egter nie gaan lê nie en het verbete teruggeveg, Hulle het die telbord behoorlik aan die rol gehou deur punte op te stapel deur strafskoppe telkemale deur die dwarslatte te jaag met Sachin Toring, kookwater skrumskakel van Groot-Brak, wat sy gemaklikste stewels beslis op die dag aan sy voete gehad het.
Hoofafrigter Johan Lerm, heel links, was vol lof vir sy span se welverdiende oorwinning asook vertoning. Foto: Brakiekie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’