RUGBY NUUS - Riversdal Blues het Saterdag op hul tuisveld teen 'n sterk en swaar Evergreens-span vasgeval nadat die besoekers hulle veral in die vaste spel, soos skrums en lynstane, oorheers het en uiteindelik met 37 - 23 gewen het.
Met die aansienlike gewigsvoordeel onder sy agtal het Evergreens die tuisspan naby die doellyn uit die pad gestoomroller en vier drieë gaan druk.
Evergreens het gewys dat, as jy die skrums en lynstane domineer, jy jou teenstander kan platloop. Veral die twee slotte voor in die ry het uitgestaan.
Maar Riversdal Blues, in slegs hul tweede jaar in die SWD Superliga, het nooit gaan lê nie en, soms met ondernemende spel die besoekers in trurat gehad.
Die doodskoot het kort ná rustyd gekom toe Evergreens sy bomb squad opgestuur het. Die klomp swaargewigte op die plaasvervangerbank het soos stadige gif die Blues se energie getap en hulle verlam.
Maar die Blues hoef nie in sak en as te gaan lê nie. "Ons is bloedneus, maar beslis nie planke toe nie," het die hulpafrigter, Kabous Albertyn, aan Suid-Kaap Forum gesê.
"Ons is deur 'n beter span geklop wat hul gewigsvoordeel goed ingespan het. Teen hul sterker reserwekrag het ons nie antwoorde gehad nie."
Riversdal het met die opwarming vooraf 'n groot terugslag gehad toe sy skerpskutter-heelagter, Wilbur January, sy enkel erg beseer het en hy inderhaas vervang moes word. "Dit het ons planne deurmekaar gekrap en ons moes ons agterlyn verander."
Die besering aan die Blues se haker, Brently Bezuidenhout, was soos olie op die vuur en het die tuisspan daarna op die agtervoet gehad.
Vir die grootste deel van die eerste helfte het sake gelykop verloop en selfs vir goed 20 minute ná rustyd was die telling gelykop op 23 elk.
Toe stuur Evergreens sy plaasvervangers op en is die koeël deur die kerk - en weer terug.
Riversdal Blues het die besoekers se doellyn in die laaste paar minute meedoënloos aangeval, maar daar was geen deurkomkans nie.
Evergreens pak Harlequins Saterdag op hul tuisveld terwyl Riversdal Blues in 'n derby teen Heidelberg te staan kom.
Earlston Hoffman van Riversdal Blues kry Evergreens se sterk binnesenter Gideon Lambrechts net betyds om sy heupe beet.
Darrel Prins, woelwater-flank van Riversdal Blues, probeer Leegan Moos, Evergreens-heelagter, se aanval uit gebroke spel te stuit.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’