Die tuisspan het 10 drieë ingeryg en rustyd reeds met 40-3 voorgeloop. Die SWD se blitsvleuel Fizell Fredericks het 'n driekuns aan drieë behaal. Vir die SWD het Leighton Eksteen (losskakel), Natan Gogela (stut), Juandre Fourie (senter), Kirsten Heyns (sen-ter), Brianston Booysen (haker), Bradley Jumaats (17), Raeez Salie (16) ook in die drieëfees gedeel. Eksteen het altesame 21 punte met 8 doelskoppe en 'n drie behaal.
Die SWD het die skare op die volgepakte hoofpawiljoen op hul voete gehad met hul goeie aanvallende spel. Hulle het selfs vanuit hul eie kwartgebied, ná omgekeerde besit, aangeval en die Griffons-verdediging skoon oorhoops gehad. Sulke hardlooprugby is lank laas hier gesien en die twee afrigters, Deon Davids en Darryl Coeries, verdien beslis lof vir die manier waarop hulle die spelpatroon en strukture deeglik by die spelers ingeprent het. Dit beloof net goed vir die SWD vorentoe.
Voorlangs het Andy Ntsila (agtsteman), wat as speler van die wedstryd aangewys is, Janneman Sander (flank), Brianston Booysen (haker), die plaasvervanger-flank, Wicus Oosthuizen, en Anley Theunissen (slot) uitgestaan.
Agterlangs het die klein generaal Eksteen, wat verlede jaar nog op die skoolbanke gesit het, en Fredericks geskitter. Maar agterspe-lers soos Dillin Snell (skrumskakel), Fourie, Heyns, Eathon Williams (vleuel) en die heelagter, Keneedo Pietersen, ook die oog gevang met stewige verdediging en skeppende spel. Die plaasvervangers, Kerwin Appollis, Na-taniel Billy en Lee-roy Poje het ook 'n groot impak gemaak.
Die SWD lê nou in die tweede plek met 14 ligapunte saam met die OP (eerste ook op 14 punte), maar hulle spog met 'n beter punteverskil. 'n Reuse stryd word dus verwag wanneer die OP hier teen die SWD moet speel.
Die SWD-bestuur wil graag die borg, Albertinia Meubelvervoer, bedank vir die span se opwarmingshempies en die bestuurspanne se baadjies. Denzel Geldenhuys van Geldenhuys Vervoer, van Heidelberg, het die span se kopmusse geborg.
Die SWD het nou 'n blaaskans voordat hulle weer op 6 September na Kempton Park reis waar hulle teen die Valke te staan kom.
Klik hier vir fotogalery.
Lee-Roy Poje, plaasvervanger-losskakel van die SWD, beur ook doellyn toe met Leighton Eksteen en Achmad Salie (slot) aan sy buitekant.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'