GEORGE RUGBYNUUS - Met die SWD Arende se SuperSport-veldtog agter die rug, verskuif die fokus nou volledig na die SWD Premierliga waar die spanne mekaar begin opkeil om hul plek in die uitspeelrondes te bespreek.
Daar is ná die naweek nog twaalf rondes wedstryde oor vir diegene met aspirasies om die titel agter hul naam te skryf.
Die Arende het in Ravensmead in hul laaste SuperSport-uitdaagwedstryd teen die Haaie XV-tal met 40-17 verloor en algeheel sesde in die Suidelike afdeling klaargemaak.
Gegewe die feit dat hulle kwalik 'n week voor die aanvang van dié uitdaagreeks begin oefen het en hoofsaaklik van klubspelers gebruik moes maak, was dit nie 'n verrassing dat die Arende gesukkel het om die mas op te kom nie. Dat hulle bo die Grens-Bulldogs en die Zimbabwiese akademiespan kon eindig, gee rede tot hoop. Daar is tog lig aan die einde van dié tonnel.
Eddie Myners en sy afrigtingskorps het hopelik 'n paar klubspelers geïdentifiseer wat hulle met vertroue vorentoe in die Curriebeker se Eersteliga kan inspan.
En dat hulle reeds nou al voelers gaan uitsteek na ervare spelers om die tekorte in sekere posisies aan te vul en die span te versterk. Hopelik lê daar iewers 'n paar sente rond om talent in te koop.
Op klubvlak word Evergreens deur Crusaders, Progress en Heidelberg gejaag. Daar's geen warmer plek as aan die bo-punt van die puntelys nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'