RUGBY NUUS - Die o.18 SWD Cravenweek kon verlede Woensdag, 7 Junie, by die harde baarde van rugby leer toe hulle saam met die SWD Arende geoefen het.
Vir beide die groepe was dit 'n wen-wen situasie. Die Arende het die geleentheid gebruik om hul balvaardighede op te knap met die oog op hul afgelope halfeindwedstryd in die Mzansi-reeks en die Cravenweekspelers het geleer by die ouer garde met die oog op die Cravenweek wat van 3 tot 8 Julie plaasvind.
Vir die SWD Cravenweekspan is vanjaar se toernooi 'n besondere geleentheid want dit word in George by Hoërskool Outeniqua aangebied. Dit val saam met die skool se 100-jarige feesvieringe.
Die SWD Cravenweekspan behoort sommer met sy eerste wedstryd al behoorlik getoets te word want hy speel in die openingswedstryd teen die verdedigende kampioen, WP.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het tydens verlede week se geleentheid sy breedvoerige rugbykennis met die spelers gedeel.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende aan die woord tydens verlede week se geleentheid. Foto: Eugene Gunning
Janneman Stander, kaptein van die Arende, het die Cravenweekspelers sterkte toegewens. Hy het op sy dag self vir die SWD Cravenweekspan uitgedraf.
Jaco Janse van Rensburg, hoofafrigter van die o.18-Cravenweekspan, het na die geleentheid aan George Herald gesê dit was 'n geleentheid vir die speler om saam te oefen. Daar moet in gedagte gehou word dat die spelers van verskillende skole kom. Dit was goed om die spelers bymekaar te kry.
Die amptelike bekendstelling van die Cravenweek het onlangs by die skool plaasgevind en is onder meer deur Leon van Wyk, George se burgemeester en Hennie Baartman, lid van Saru se uitvoerende bestuur, bygewoon.
Chris Hattingh, senior adjunkhoof van die skool, het gesê die Cravenweek gee kleur en geur aan die skool se eeufeesvieringe.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om deel te word van die unieke geleentheid.
Baartman het gesê dis hoog tyd dat die Cravenweek weer in die Suid-Kaap aangebied word.
Piet Cloete (adjunkhoof: sport van Kwaggas), Chris Hattingh (senior adjunkhoof), Jaco Janse van Rensburg (SWD Cravenweek hoofafrigter) en Marius Bezuidenhout (voorsitter van Outeniqua se beheerliggaam). Foto: Eugene Gunning
Grant Riddles (senior visepresident van SWD-rugby), Ben Brinkhuis (president van SWD-rugby) en Leon van Wyk (George-burgemeester). Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’