RUGBY NUUS - Die o.18 Cravenweek wat van 3 tot 8 Julie in George plaasvind, gaan nou op Outeniquapark gehou word.
Die prestige geleentheid wat deur rugbyspelers vanoor Suid-Afrika bygewoon gaan word sou aanvanklik op die A-veld van Hoërskool Outeniqua plaasvind. Altesaam 16 spanne is betrokke en verskeie van die wedstryde sal op televisie uitgesaai word.
Die impak van die onlangse reën het egter veroorsaak dat Outeniqua se A-veld nie in 'n geskikte toestand sal wees om verskeie rugbywedstryde te kan hanteer nie.
Boonop is die skool na die Cravenweek betrokke by twee sportgeleenthede waarvan van die rugbywedstryde op die A-veld gespeel gaan word. Een van die skool se eerstespanwedstryde sal op TV uitgesaai word.
Outeniquapark
Die Cravenweek-wedstryde sal nou op Outeniquapark plaasvind behalwe vir enkele wedstryde die Saterdag op Outeniqua se C-veld.
Die geleentheid is oorspronklik aan Outeniqua gegee om saam te val met die 100-jarige vieringe van die skool. Dit bly deel van die skool se feesvieringe en dit word in samewerking met die George-munisipaliteit en SWD-rugby gedoen.
Die besluit om dit te skuif is Maandag geneem. Lede van die plaaslike reëlingskomitee het dit Dinsdagaand, 20 Junie, aan George Herald bevestig.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê die versoek het van die skool gekom en dit is oorweeg.
"Daar is gevoel Outeniquapark is die beter plek in die stadium. SA Rugby is dienooreenkomstig ingelig en die instansie het reeds die groen lig gegee." Brinkhuis het benadruk dit bly deel van die skool se eeufeesvieringe.
Dirk Wessels, 'n lid van die George-stadsraad se burgemeesterskomitee en ook lid van die reëlingskomitee, het gesê die skool se versoek is deur die regte kanale hanteer. "Die uitermatige reën van die afgelope tyd sal dit baie moeilik maak om so baie wedstryde by Kwaggas te speel."
Christo Vorster, hoof van Outeniqua, het gister (Woensdag, 21 Junie) gesê dis jammer dat dit moet skuif, maar dis buite die skool se beheer. Outeniquapark het 'n goeie dreineringstelsel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’