GEORGE NUUS - Van 'n klein begin tot 'n rugbyspan waarmee rekening gehou moet word. Dit is die pad wat die Untouchable Rabbits van Syferfontein sedert verlede jaar geloop het.
Daar is Saterdag tydens 'n prysuitdeling erkenning aan hul spelers gegee en Denver Potts, die span se losskakel, is as speler van die jaar aangewys.
James Smith, stigter en dryfkrag agter die klub, het gesê die spelers speel soos hulle naam aandui.
Sedert die klub verlede jaar ontstaan het, het dit gegroei. Vanjaar het net een span gespeel en die plan is om aanstaande jaar twee spanne in die Kusliga in te skryf. Hulle het vanjaar gemengde sukses behaal, party wedstryde gewen en ander verloor.
Hy het die klub gestig om jong manne van die straat af te kry.
"Baie van die manne was by die verkeerde dinge betrokke. Ek wou hê hulle moet besef daar is 'n toekoms in sport."
Die bestuur en spelers van die Untouchable Rabbits van Syferfontein die afgelope Saterdag tydens die prysuitdeling.
Hul ouderdomme wissel tussen 18 en 40 jaar. Spelers moet 18 jaar oud wees voordat hulle toegelaat word om in die liga te speel. Van die spelers kom klop aan voordat hulle 18 is en dan word hulle toegelaat om solank saam te oefen.
Volgens Smith is daar talle uitdagings waarmee hulle te doen kry. Een van die grootstes is fondse. Soms gebeur dit ook dat van die manne weens vervoerprobleme nie by van die wedstryde kan opdaag nie.
"Die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbeker in Japan het ons gemotiveer om nog beter te speel."
Volgens hom is dit nie uitgesluit dat daar 'n "Cheslin Kolbe" in die span se geledere is nie.
Hy het benadruk dat sonder die hulp van die publiek en maatskappye sou hulle dit nie gemaak het nie.
"Ons is baie dankbaar teenoor Tania Redpath van Kia-motors wat vir ons geskenke gegee het vir die prysuitdeling asook Janie Lester van PJ Appliance Services wat ons per geleentheid met geld vir vervoer gehelp het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'