GEORGE RUGBY NUUS - Die Springbokke het in Saterdag 25 September se toets teen die All Blacks 'n geleentheid gehad om te wen en gaan dit nie maklik weer kry nie. Dit is die boodskap van twee oud-Springbokke, Bevin Fortuin en Anton Leonard wat deesdae in George woon.
Vrae het ontstaan waarom die Springbokke die toets met 19-17 verloor het. Tot kort voor die einde was die Springbokke nog in die prentjie en het teen die verwagting, vir 'n groot deel van die toets sterk gestaan.
Beide Fortuin en Leonard weet wat dit beteken om op daardie vlak te speel.
Bevin Fortuin
Fortuin het die toets al drie keer gekyk. Volgens hom het die Springbokke nie Saterdag hul geleenthede benut nie. Die Springbokke het goed geskrum en hul lynstane was goed, maar hulle het nie hul hardloopkanse benut nie.
Volgens hom het die All Blacks baie foute gemaak en die Springbokke het dit nie uitgebuit nie. "Die All Blacks was Saterdag nie op hul beste nie."
Wat hom bekommer, is dat die All Blacks dit nie twee keer na mekaar sal doen nie. Iets positiefs wat uit die toets gekom het, is dat die Springbokke gewys het hulle kan hul man staan.
"As is verbrande hout. Die fokus moet nou op die komende Saterdag se toets wees."
Hy glo die Springbokke het 'n kans vir Saterdag se tweede toets. Die belangrikste gaan egter wees hoe die Springbokke die toets bestuur.
Fortuin glo hulle sal reg wees en net soos met die eerste toets gaan dit afhang hoe die Springbokke hul geleenthede benut. "Jy kry nie baie geleenthede teen hulle nie."
Die spelers sal ook moet kan aanpas by die omstandighede. Hulle sal elke geleentheid moet kan raaksien en benut. Die kommunikasie tussen die spelers moet reg wees.
Anton Leonard
Anton Leonard
Leonard het gesê die All Blacks het lanklaas so swak gespeel en soveel hanteerfoute gemaak. Dit is so dat hulle hanteerfoute gemaak het omdat die Springbokke hulle onder druk geplaas het met skoppe.
Die Springbokke het nie sleg gespeel nie, maar hy het vrae oor die talle skoppe. "Ek verstaan 'n span moet skop, maar 'n span moet weet wanneer om te skop en wanneer om te hardloop met die bal."
In een stadium toe die Springbokke op die aanval was in die All Blacks se kwartgebied, het hulle drie keer die bal geskop. "Ons het baie balle op die voorvoet geskop."
Die wyse waarop die Springbokke nou speel gaan hulle nie baie ondersteuners kry nie en nie toeskouers lok nie. "As daar 'n kans was dat ons kon wen, was dit Saterdag."
Leonard het gesê dit gaan baie moeilik vir die Springbokke wees om Saterdag te wen. Baie gaan afhang van die spankeuse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'