Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - "Klubs is die hartklop van rugby in die SWD." So sê Ben Brinkhuis, die nuwe waarnemende president van SWD-rugby, wat in die plek kom van Hennie Baartman, wat onlangs op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) verkies is.
Brinkhuis sal waarneem tot 26 November wanneer 'n nuwe president vir SWD-rugby tydens die unie se algemene jaarvergadering vir die volgende vier jaar verkies sal word. Hy was tot onlangs die senior visepresident.
Die 58-jarige Brinkhuis moet nou die SWD skip vir die volgende paar maande stuur. Rugbyondersteuners in die streek hoef egter glad nie bekommerd te wees nie, want Brinkhuis gaan seker maak daar is kontinuïteit. Hy is ook deur en deur 'n klubman.
Hy gaan hom wel verkiesbaar stel tydens die algemene jaarvergadering, maar die verkiesing is in die stadium nie sy fokus.
Brinkhuis het by navraag gesê klubs lê hom na aan die hart en speel 'n baie belangrike rol in die streek. Hulle is 'n voedingsbron vir die unie se provinsiale spanne.
Hy kom self uit 'n klub agtergrond en was in 1989 die stigter van die Eagles Stars in Sedgefield. Later het hy voorsitter van die kusstreek geword en in 2010 senior visepresident van SWD-rugby.
Destyds is besluit dat Baartman sal fokus om die unie vorentoe te neem en op die klubs se uitdagings.
"Ek weet hoe moeilik dit is vir klubs. Klubs het 'n verantwoordelikheid in gemeenskappe om dinge te verbeter. Hulle speel 'n saambindende faktor. Hulle bring kohesie en gee vir mense iets om Saterdae na uit te sien. Klubrugby bemagtig ook mense as dit reg aangewend word."
VIDEO: Ben Brinkhuis, waarnemende president
Volgens hom is rugby nie net 'n sport, maar dit is ook deel van gemeenskapsopheffing. Rugby is baie gewild in die streek en daar is tussen 4 000 en 5 000 spelers in die streek.
Ofskoon SWD-rugby die afgelope 12 jaar in 'n goeie posisie gevestig is, bly een van die uitdagings om 'n borg vir die SWD Arende te kry. Hy doen 'n beroep op die sakegemeenskap om betrokke te raak. Dit is tot voordeel van die spelers en die sakesektor.
Brinkhuis glo die streek het baie potensiaal. Twee van die land se toprugbyskole, Hoërskool Outeniqua en Hoër Landbouskool Oakdale is in die streek.
Op die oomblik speel die Arende in die eerste divisie van die Currieberreeks. As die span daarin kan slaag om aanstaande seisoen in die Premierliga van die reeks te speel, sal dit baie help. As daar meer blootstelling is, kan dit help met meer finansiering en ook om van die plaaslike talent hier te hou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'