GEORGE NUUS - Die kundigheid en ervaring van Hennie Baartman, wat diep spore in SWD-rugby getrap het, gaan nou op nasionale vlak beskikbaar wees.
Die 50-jarige Baartman is verlede Vrydag, 29 April, op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verkies.
Hy is op die oomblik president van SWD-rugby en sy verkiesing beteken dat hy die tuig by SWD sal moet neerlê. Baartman is reeds sedert 2010 president van die unie. Hy is hoof by Eljada Kairos skool in Oudtshoorn en sal aanbly in die pos.
In 'n openhartige onderhoud met George Herald het Baartman gepraat oor die verlede en wat nou wag. Hy het 'n passie vir rugby.
Volgens hom is dit 'n groot voorreg om in die nuwe hoedanigheid betrokke te raak. As SWD-rugby se president het hy baie harde werk ingesit en baie opofferings gemaak. Hy moes onder meer baie van Oudtshoorn na George reis. Tong in die kies het hy gesê: "Ek gaan nie die pad oor die berg na George mis nie. Ek kan hom al toe oë ry."
In 'n ernstige trant het hy bygevoeg: "Ek gaan SWD-rugby mis."
Hy sien uit na die nuwe taak.
"Oor die jare het ek op subkomitees van Saru gedien en is toegerus vir my nuwe taak."
As president van SWD-rugby was daar verskeie hoogtepunte. Dit sluit in SWD se wen van die eerste divisie van die Curriebekerreeks in 2018.
Voorts die spelers en afrigters wat die unie vir nasionale vlak opgelewer het. Onder hulle is Deon Davids, Eddie Myners en Warrick Gelant.
'n Derde hoogtepunt is dat hy deel kon wees van die Sares-raad wat die 2021 Britse en Ierse Leeus toer na Suid-Afrika gereël het en ook hierdie jaar se Wêreldbeker Sewes wat in September in Kaapstad plaasvind reël.
Hy is baie hoopvol vir rugby in die SWD. "Hulle is 'n gevestigde unie. Hulle alleen kan hul toekoms bepaal - hetsy positief of negatief. Ek glo dat SWD-rugby van sterkte tot sterkte sal gaan."
Baartman is ook positief oor die toekoms van SA rugby nieteenstaande huidige kritiek teen Saru. "Ek glo Saru is op die regte pad. Suid-Afrika is nommer een in die wêreld. Met die huidige administrasie en bestuur glo ek sal ons die Wêreldbeker in 2023 verower en ons status as nommer een behou."
As hy weer die kans kry sal hy alles net weer so doen. Hy het sy dank uitgespreek teenoor sy oorlede ouers. Hulle is in 2020 en 2021 binne twee weke van mekaar aan Covid oorlede. "Ek sou graag die oomblik met hulle wou deel."
Hennie Baartman se lang rugbypad
Dis 'n lang pad wat Baartman in die rugby-wêreld gestap het. Hy het 'n passie vir rugby en het reeds op 'n jong ouderdom in 1982, toe hy nog op laerskool was, al daarby betrokke geraak as speler. Hy het binnesenter gespeel. Later het hy sy rugbyloopbaan op hoërskool voortgesit. Na skool het onderwys gaan studeer by Onderwyskollege Suid-Kaap. In sy derde jaar het vir die kollege se eerste span uitgedraf.
In 1994 het hy begin met sy onderwys-loopbaan en van 1994 tot 1997 het hy vir Bridgton se eerste span gespeel. Hy moes ophou as gevolg van harsingskudding. Hy was net 26 jaar oud.
Op 27-jarige ouderdom het hy skoolhoof geword en was vir sowat drie jaar nie by rugby betrokke nie.
In 2000 het hy by rugby-administrasie betrokke geraak. Aanvanklik as hulpsekre-taris van Bridgton. Van 2006 tot April 2010 was hy voorsitter van die klub. In die tyd het die klub groot sukses behaal. In 2009 en 2010 was hy ook voorsitter van LSEN (Spesiale skole rugby in SWD).
In April 2010 het hy president van SWD-rugby geword.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'