SUID-KAAP NUUS - Die SWD Arende het nou wel die afgelope Saterdag in Kempton Park teen die Valke met 26 - 54 vasgeval, maar hul selfvertroue sou beslis 'n hupstoot gekry het met die wete dat hulle tog die slaankrag het om die Valke te klop.
"Die Valke kán oorwin word, maar ons moet dit net in ons koppe kry," sê Johan Lerm, hoofafrigter.
"Hulle is glad nie so onoorwinlik nie en selfs hul afrigter het ná die wedstryd aan my erken dat hy in een stadium nogal bekommerd was dat dinge gaan uitrafel."
Die Arende se ondergang het in die laaste 12 minute gekom toe die Valke losgetrek en vier drieë aangeteken het. "Dit was 'n oomblik van waansin en het die wind uit ons seile gehaal."
Die rustydtelling was 14 - 7 in die Valke se guns, maar met die omdraaislag het die Arende twee drieë gaan druk om in die 59ste minuut met 19 - 14 voor te loop - en die Valke en hul ondersteuners kriewelrig te maak.
"In die 67ste minuut was die Valke met 26 - 19 voor en was ons nog binne bereik," vertel Lerm. "Maar daardie fatale laaste 12 minute het die wiele laat uitval."
Maar, sê Lerm, sy span het weereens groot karakter getoon om terug te veg.
"Ons terugvegpoging het vrugte afgewerp toe ons in beseringstyd 'n drie gaan druk het vir 'n bonuspunt.
"Die spelers het hul alles gegee vir daardie bonuspuntdrie.
"Ons het weereens, soos teen die Griffons twee weke gelede, sagte foute gemaak en die tuisspan kans gegee om teen die verloop van die spel punte aan te teken met drieë."
'n Geel kaart in die laaste tien minute het die Arende duur te staan gekom, want teen 'n gedugte kalant soos die Valke kan jy nie met een speler minder speel nie.
Die lostrio van Leighton van Wyk (agtsteman) en die twee flanke, Damon Royle (kaptein) en Dian Basson, het uitgestaan en hul harte uitgespeel. Veral Van Wyk was iets ysliks met die bal in die hand. Marquard September (senter) het ook 'n paar stewige lopies ingekry.
Vrydagaand wag die Luiperds op Outeniquapark en die Arende sal mik om hier minstens twee punte in te samel. Dit kan straks vir hom 'n tuishalfeindstryd in die sak bring.
Maar die sakrekenaar sal eers ná Saterdag se ander Curriebeker-wedstryde uitgehaal kan word om te bepaal watter spanne haal die halfeindstryd.
Saam met die Arende is dit die Valke, die Griffons en selfs die OP wat kan deurdring.
SWD Eagirls knak Valke se vlerke
Die SWD Eagirls het die Valke se vrouespan Saterdag op Bridgton in Oudtshoorn met 'n vernederende 105 - 0
oorrompel. Vuyyolwethu 'Mia-Lee' Matiwane, die onderkaptein van die Eagirls, is as speler van die wedstryd aangewys nadat sy 'n indrukwekkende sewe drieë gedruk het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’