GEORGE NUUS - Van Kervel Skool het die afgelope naweek uitmuntend presteer by die SA toutrekkampioenskappe, wat by Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai plaasgevind het.
Met omtrent 400 spanne en meer as 1 000 atlete wat aan die toernooi deelgeneem het, het Van Kervel se span hulself uitstekend van hul taak gekwyt en beter gevaar as wat hulle ooit kon hoop.
As ’n skool met spesiale behoeftes, het Van Kervel teen hoofstroomskole meegeding in die volgende afdelings: 480 kg seuns premier, 480 kg meisies premier, 520 kg seuns premier, 520 kg meisies premier, 520 kg gemeng premier, 440 kg seuns ontwikkeling, 520 kg gemeng ontwikkeling.
Die 480 kg seuns-span het ’n fenomenale 4de plek in Suid-Afrika behaal, nadat hulle net-net uit ’n bronsposisie geval het teen Oakdale, verlede jaar se kampioene.
Die 480 kg en 520 kg meisiespanne het ook uitsonderlike goed gevaar en die skool met trots verteenwoordig. Verder het die 440 kg seuns- en 520 kg gemengde ontwikkeling-spanne silwermedaljes verower, wat groot hoop vir die toekoms van Van Kervel se toutrek inhou.
Van Kervel se toutrekspan
“Ons bedank elke persoon wat ons ondersteun het, veral ProfSoft Solutions (Pty) Ltd, wat jaar na jaar ruim borgskappe verskaf en ons in ’n beter posisie plaas om sukses te behaal,” sê hul afrigter, Ulrich Swart. “'n Spesiale dank ook aan BASF in vennootskap met Glasurit Paint vir hul borgskap en ondersteuning, wat ons help om ons span verder te ontwikkel.
“Ons nooi enige besighede of individue uit om Van Kervel se toutrekspan te borg.”
Alle skenkings help om minderbevoorregte kinders te ondersteun met toerkoste, asook met noodsaaklike toerusting soos stewels en spanuniforms.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’