PLAASLIKE SPORTNUUS - Minder as 'n jaar voor haar 50ste verjaarsdag, het Lizl Kuyler besluit dis hoog tyd vir 'n nuwe uitdaging.
Daar en dan, in September 2023, het dié fyn swartkop van die plaas Skimmelkrans net buite George, 'n nuwe perd opgesaal om die uitdagende wêreld van uithouritte aan te pak.
Sedertdien het sy 'n ongelooflike 2 044km in die saal tydens uithouritte afgelê en glo Lizl sy kan nog meer doen, maar haar perde se welsyn bly haar eerste prioriteit.
"Om mooi na hulle te kyk is alles, want hulle is jou kosbaarste geskenk wat die sport betref. In September 2025 was ek twee jaar in die sport en dit bly my op my tone hou. Dit is ‘n sport wat jou nederig hou. Daar is ongelooflike ruiters en dis meestal die ouer garde wat met Springbokbaadjies spog. Die sport word deur ouer vroueruiters domineer.
"Ek verwonder my aan hierdie ongelooflike sterk vrouens se uithouvermoë wat 120km en 160km op een dag op 'n perd se rug kafdraf. Hulle doen dit asof dit tweede natuur is. Amazing!"
Lizl Kuyler het op Desert King se rug haar Wes-Kaap baadjie gekry.
Uithouritte het ook 'pit stops'
Lizl sê uithouritte werk op dieselfde beginsel as motorwedrenne. "Die veeartse kyk baie mooi na die perde. Perde kom in op eerste, tweede en derde bene na elke 30km of 20km vir 'n vet check.
"Eers moet jy en jou groom jou perd afkoel tot 'n hartpols van 64 en dan word jou perd na die vet line-ups geneem. Daar word hy ondersoek vir dehidrasie, polsslag, lameness, sy tandvleis se kleur word nagegaan en hy word uitgedraf.
"As hy slaag, word hy gerus, waar jy hom kos en water gee totdat jy weer mag opsaal en verder ry volgens die tyd wat jy ge-tab het vanaf die magneetband om jou pols wat gekoppel is aan jou ruiternommer."
Lizl het in 2025 net trapleerperde gery en kon daarom nie kompeteer nie.
"My perd, Azrek Erlo, was 'n jaar lank van die baan gewees.
"Ek was daarom baie trots op hom dat ek en hy in my nuwe gewigsafdeling nou in Oktober ‘n tweede plek in Darling kon behaal in ‘n fenominale tyd van 4ure 2min.
"Desert King is nou afgetree en word 18 jaar oud. Deur hierdie wonderlike perd het ek my Wes-Kaap-baadjie gekry."
In Februarie verlede jaar, net ses maande na Lizl met die sport begin het, het sy en Willoi Jenny eerste gekom in die Darling-wedren en Willoi Jenny het toe ook eerste prys ontvang vir kondisie.
Lizl Kuyler en Willoi Jenny het eerste gekom in Darling.
In Junie 2024 het sy en Desert King die uitmergelende Fauresmith-uithourit van 204km voltooi en honderde ander ervare ruiters met 'n 26ste plek getroef. Ongelukkig was daar vanjaar iets fout met Desert King se hoef en moes hulle na 80km uit die Fauresmith-uithourit ontrek.
Lizl sou nou in November in Elim aan die laaste uithourit van die jaar deelgeneem het, maar Azrek Erlo het 'n spierbesering tydens 'n oefensessie opgedoen en sal eers weer volgende jaar kan deelneem.
Groom George en perdesports
Tydens uithouritte is Lizl se man, George, haar perdeversorger, oftewel groom.
"Ek is innig dankbaar vir George wat my deur dik en dun in my perdesport ondersteun. Of sal ek sê perdesports?! Dis belangrik om te onthou alles in die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie. Wat tel is deursettingsvermoë, harde werk en passie. Wees lief vir wat jy doen en hê respek vir alles en almal om jou."
Lizl Kuyler en haar groom, manlief George, na haar eerste plek in die Zeekoe Uithourit in Oudtshoorn.
Lizl is 'n lid van die Outeniqua Uithouritklub en George is onlangs verkies as voorsitter van die klub, wat hom outomaties 'n bestuurslid van die Wes-Kaapse uithouritunie, WCERA, maak.
Al die klubs in die provinsie val onder WCERA, wat weer val onder die nasionale vereniging, ERASA (Endurance Ride Association of South Africa).
Alle uithouritruiters moet aan 'n klub behoort wat onder ERASA affilieer.
VIDEO: Vroue bo 50 regeer die uithourit-wêreld: Ontmoet 'adrenaline junky', Lizl Kuyler van George
Klim die leer
Lizl sê as jy begin ry, moet jy deur ‘n trapleerfase gaan van 2 x 40km’s en dan 2 x 80km’s. "Jy en jou perd. Daarna kan jy begin kompeterend ry in jou gewigskategorie."
Liggewig is onder 73kg saam met jou saal en die res van jou tuig en standaardgewig is van 73kg tot 92kg. Swaargewig is bo 93kg.
Lizl het aanvanklik in die standaardgewig-afdeling deelgeneem, maar is deesdae 'n liggewig. Wanneer dit egter by prestasie kom, is dié kranige ruiter en haar perde beslis swaargewigte om mee rekening te hou.
En in Februarie wag Darling weer vir Lizl, Azrek Erlo en groom George.
En sy kan nie wag nie, want na deursettingsvermoë, harde werk en passie, kom die lang pad van uithou en aanhou... met liefde en respek.
Lizl Kyuer se talle hoogtepunte in net twee jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’