SUID-KAAP SPORT NUUS - 'n Tierende wind het die skuts behoorlik beproef by die Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe wat onlangs tydens die WP Ope by Yzerfontein aan die Weskus aangebied is.
Mans-, vroue- en juniorspanne van Eden, Kaapstad en die Wynlandstreek het aan die byeenkoms deelgeneem.
Altesame 161 skuts moes die wind trotseer, wat teen Saterdag nooit onder 15 m.p.u gewaai het nie.
Die Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe is vanjaar in George, Montagu en Yzerfontein beslis.
Eden-jaggeweerskiet, in samewerking met die Eden-sportraad se volgehoue ondersteuning van junior en vroue se ontwikkeling van skietsport, is weer in 2018 beloon deurdat Eden se vroue en juniors dié reeks as oorwinnaars afgesluit het. Eden se mans was algeheel tweede.
Die reeks skep die geleentheid vir mededingende skuts om amptelike erkenning te kry. Vir diegene wat deurlopend baie tyd insit word harde werk met provinsiale kleure beloon.
Daar is tans sewe van Eden-jaggeweerskiet se lede in die nasionale top 50-ranglys, wat een vrou en twee juniors insluit.
Die beste individuele prestasies deur lede van Eden-jaggeweerskiet tydens die WP Ope is as volg:
Mans: Jacques du Plooy (eerste).
Vroue: Junita van Zyl (derde).
Juniors: Leras van Zyl (derde).
Eden-jaggeweerskiet se juniorspan was vanjaar by die Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe onoorwonne. Van links: Ané Viljoen, Ian Jacobs, Conrad de Does (WP-voorsitter), Anlo Ferreira, Leras van Zyl en Emile Goedhals.
Eden-jaggeweerskiet se mansspan wat by Yzerfontein aan die Wes-Kaapse interdistrikte skietkampioenskappe deelgeneem het. Van links: Freek Zeelie, Niaan Fourie, Christo Delport, Jacques du Plooy en Fanie van Staden.
"Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus."