GEORGE NUUS - Nie eers beurtkrag en reën kon die afgelope naweek in die pad staan van die suksesvolle aanbieding van die Africa Skills George Tens sport- en leefstylfees nie.
Die organiseerders is tevrede en het aangedui dat dit beslis aanstaande jaar weer gaan plaasvind.
As gevolg van die reën moes aanpassings gemaak word en die strandvlugbal, veldlope en bergfietswedrenne is afgestel. Daar is ook inderhaas aanpassings gemaak vir die rugbywedstryde.
Om die hoofveld by Outeniquapark te beskerm sodat die veld nog op Sondag gebruik kon word, is minder wedstryde gespeel, veral Saterdag. Die kaalvoet spelers van die junior spanne het die feeswedstryde afgeskop.
Heyneke Meyer, een van die organiseerders, het Sondag aan George Herald gesê hy is tevrede met die verloop van die geleentheid. Dit was ook 'n goeie besluit om die datum van die fees na later in Desember te skuif, aangesien dit meer mense in staat gestel het om die geleentheid by te woon.
Hy sal graag wil sien dat die laerskool-deelname groei - nie noodwendig dat spanne onder hulle skole se vaandel deelneem nie, maar dat hulle sosiale spanne vorm. Hy reken die standaard van die rugby was goed.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies van die George-stadsraad, het gesê die geleentheid is hier om te bly. Die nuwe datums is beter omdat baie van die deelnemers vroeër as gewoonlik na die gebied kom en dan ook hier vakansie hou. Dit verleng die "vakansieseisoen".
Hy was gelukkig met die fenominale groei van meer as 100% in die getalle deelnemers en spanne van al die provinsies, asook toeskouers. Hy het gesê die reën was 'n faktor, maar dinge het goed uitgewerk en hulle het lesse uit die weersituasie geleer.
Joan Shaw, hoof van George-toerisme wat ook die geleentheid bygewoon het, het gesê die nuwe datum het beteken dat nie net deelnemers gelok is nie, maar ook vakansiegangers.
Met die raakrugby op die strand was daar vermaak op die strand.
Volgens haar is dit 'n goeie geleentheid en dit moet bly. Sy het gesê sport is iets wat mense laat saamtrek. Sy was ook van mening dat die reën 'n positiewe impak gehad het. Ofskoon aanpassings gemaak moes word, het dit gehelp om spangees te bou. Sy het 'n beroep op die sakegemeenskap gedoen om aanstaande jaar meer betrokke te raak.
Tydens die geleentheid het sy ook 'n ontmoeting met Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, gehad. Wenger het Saterdag 'n deel van die fees bygewoon en die ontmoeting was 'n geleentheid om hul toerisme uitdagings in George te bespreek.
Die SA Legends en die Diamond Hunters na afloop van hul wedstryd.
Opwindende wedstryd
In een van die mees opwindendste wedstryde van die Tens het die SA Legends Sondag die veterane-afdeling gewen. Hulle het die Diamond Hunters 10 - 7 geklop. Maklik was dit nie.
Toe speeltyd verstreke was, was die telling 7 - 7. Daar is toe ekstra tyd gespeel en die span wat eerste punte sou aanteken wen.
Die spanne het weer aangetree en mekaar aangevat. Na 'n paar minute het dit gelyk of die Diamond Hunters sou wen. Hulle het 'n relatiewe maklike strafskop naby die pale gekry, maar dit verbrou. 'n Rukkie later het die Legends 'n moeiliker strafskop gekry en wel die bal oorgeskop. Eers na ses minute en 45 sekondes se ekstra speeltyd was daar 'n uitslag.
Mens sou dit as die wedstryd van twee oud-Springbokke kon beskryf. Zane Kirchner het vir die Legendes uitgedraf en Danie Gerber is die afrigter van die Diamond Hunters.
Raakrugby Vrydag op Wildernisstrand.
Heyneke Myer (links) en Dirk Wessels (regs) by een van die borge se gelukbringers. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'