Gallery
SPORT NUUS - Die meeste toeskouers ooit in die geskiedenis van 'n sportgeleentheid van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) het verlede naweek (17 en 18 Maart) gesorg dat die skool se Eeufees-sportnaweek 'n groot sukses was.
Altesaam 2 500 deelnemers van 24 skole vanoor Suid-Afrika het die sportfees by die skool bygewoon. Die fees is gehou om die skool se 100-jarige bestaan te vier en daar is meegeding in rugby, netbal, hokkie, muurbal en tennis.
As die deelnemers, ondersteuningspersoneel en toeskouers almal in aanmerking geneem word, het na raming tussen 6 000 en 7 000 mense die fees oor die twee dae bygewoon.
Deelnemers, afrigters en toeskouers het ver gery om saam fees te vier. Sommige selfs so ver as Krugersdorp en Pretoria in Gauteng en Secunda in Mpumalanga.
Talle mense het reeds van vroeg Saterdag-oggend by die skool opgedaag. Die wat nie vroeg daar was nie, het gesukkel om parkering te kry. Onder die toeskouers was talle ouers wat hulle kinders aangemoedig het. Dit het by tye gelyk of van die ouers op die kantlyn harder "speel" as hul kinders op die veld. Van die toeskouers het ook hul honde saamgebring.
Die skool het gewys hy is trots op twee van sy oudleerlinge, Duhan van der Merwe en Manie Libbok wat al internasionaal hul merk op die rugbyveld gemaak het. Reuse-fotobaniere van die twee is by die fees aangebring. Van der Merwe het juis later die middag in Edinburgh 'n drie vir Skotland teen Italië gedruk.
FOTOGALERY: Sportfees by Hoërskool Outeniqua
Die wedstryd tussen Kwaggas en Paul Roos se o. 19 B-spanne het groot belangstelling gelok.
Piet Cloete, onderhoof sport van die skool, het Maandag 20 Maart gesê die fees was 'n groot sukses. "Almal het lekker saamgewerk en ons is baie tevrede dat die dag goed afgeloop het."
Die hoof-wedstryd was uit die Kwaggas se oogpunt die kersie op die koek. Die skool se eerste rugbyspan het Noordheuwel van Krugersdorp met 18 - 14 geklop.
Volgens Cloete was dit 'n harde wedstryd. Kwaggas het nie al hul kanse benut nie. Noordheuwel daarenteen het hul min kanse goed benut.
Cloete het gesê sowat 140 wedstryde is in die onderskeie sportsoorte gespeel.
Hy het gesê die borge het 'n groot rol in die sukses van die fees gespeel.
Hy het veral verwys na Van Rensburgs Foods, wat al die eregaste en die afrigters van eetgoed voorsien het. Hy het ook verwys na die groot rol van nog 'n borg, Grow Green Organics.
Die wedstryd tussen Kwaggas en Paul Roos se o. 19 B-spanne het groot belangstelling gelok. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’