Gallery
GEORGE NUUS - Garden Route Swim School se jaarlikse prysuitdeling vir die 2024/2025-swemseisoen was 'n aand van trofeë, foto's en jolyt! Die geleentheid is verlede Vrydag, 25 Julie, by NG Kerk Blanco se kerksaal gehou.
Die beste algehele swemmer is Isabeau Coetsee (13), wat ook die trofee vir die beste senior dogter ontvang het. Sy het altesaam nege trofeë ingepalm.
Renier van Greunen (18) is vereer as die beste senior swemmer (seuns), terwyl Elke Coetsee (11) en Tristan Coetzee (11) trofeë vir die beste junior swemmers ontvang het.
Minke Janse van Rensburg (20) is in die wolke met haar trofeë as beste internasionale swemmer, sowel as die beste swemmer met 'n gestremdheid.
Trotse oomblikke
Franna Vorster, hoofafrigter en eienaar van Garden Route Swim School, beskryf die aand as onvergeetlik, vol vreugde en trots. "Hierdie spoggeleentheid het die prestasies van ons talentvolle swemmers en atlete gevier, wat gelei het tot die toekenning van 36 trofeë en sertifikate ter erkenning van hul harde werk en toewyding," sê Vorster.
"Dit was 'n ongelooflik suksesvolle seisoen vir ons swemskool, aangesien ons op verskeie vlakke meegeding het, insluitend kompetisies regoor Suid-Afrika, die junior nasionale kampioenskappe en die senior nasionale kampioenskappe.
"Ons het ook met trots ons skool by die Intellektueel Geaffekteerde en Fisies Gestremde Suid-Afrikaanse Kampioenskapsgala verteenwoordig."
Renier van Greunen (18) is vereer as die beste senior swemmer (seuns).
FOTOGALERY - Garden Route Swim School vier swemseisoen van formaat!
Volgens Vorster is multisportatlete ook erken vir uitsonderlike prestasies in verskeie dissiplines.
"As die hoofafrigter en eienaar van Garden Route Swim School, is ek uiters trots op my afrigters en die toewyding wat al ons wonderlike swemmers en atlete getoon het."
Minke gekies vir Bangkok
Downsindroom-swemmer Minke Janse van Rensburg, is amptelik gekies om Suid-Afrika by die Virtus Wêreldswemkampioenskap in Bangkok van 20 tot 30 Augustus te verteenwoordig. Sy is tans onder die topdrie swemmers wêreldwyd met downsindroom en hou ses wêreldrekords.
Die reis word ten volle self gefinansier en die Van Rensburgs het hulp nodig om Minke se koste van R63 122 te dek.
Minke se pa, Hennie, is haar amptelike span-bestuurder en dek sy eie kostes. Vir bydraes tot Minke se kostes kontak Hennie by 083 326 5019.
Minke Janse van Rensburg (20) is in die wolke met haar trofeë as beste internasionale swemmer, sowel as die beste swemmer met 'n gestremdheid. Saam met haar is Josua Vorster (links) en Franna Vorster.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’