SPORTNUUS - Die nalatenskap van Goliath Munro, 'n baanbreker in sportontwikkeling, is onlangs vereer met die eerste Goliath Munro-gedenklesing.
Hierdie spesiale geleentheid, aangebied deur die Eden-sportraad en die departement van kultuursake en sport, het plaasgevind by die Wilderness Hotel en het sportliefhebbers en gemeenskapsleiers byeengebring om sy bydrae te vier.
Die geleentheid het gefokus op die tema, 30 Jaar van demokrasie - Die rol van sport, aangebied deur die gerespekteerde sportadministrateur Bennett Bailey.
Die program het verskeie sprekers ingesluit, waaronder Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad, wat die verwelkoming en openingstoespraak gelewer het. Dave van der Walt, 'n erelid van die Eden-sportraad, het agtergrond oor die geleentheid verskaf.
Jeroam Arendse van Western Cape Provincial Sport Confederation het sy rol as president van dié liggaam geskets, terwyl die Wes-Kaapse direkteur van sport, Thabu Tutu, die departement se bydrae tot sportontwikkeling in die provinsie benadruk het.
Ander het hul persoonlike stories, oor die impak wat Munro op hul lewens gehad het, gedeel.
Munro se vrou, Muriel, het die geleentheid saam met ander familielede bygewoon. Verskeie gesoute sportfigure was ook teenwoordig en het sy nalatenskap herdenk.
Hierdie geleentheid sal nou 'n tweejaarlikse instelling wees, met die volgende een wat hopelik in 2027 sal plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’