SUID-KAAP SPORTNUUS - Eden-jaggeweerskiet bied op Saterdag 16 Maart hul jaarlikse Eden Ope by die Louvain-gasteplaas in die Bo-Langkloof aan.
Dié immergewilde jaggeweerskietkompetisie word in samewerking met die hoofborg, Kloppers in George, aangebied.
Skuts sal uit verskeie jagposisies getoets word oor onbekende afstande op vier papier- en twee staal-gongbane. Pryse en gelukstrekkings ter waarde van R100 000 is vir wenners in die verskillende kategorieë op die spel. Terselfdertyd sal die eerste been van die interdistrikte kompetisie tussen Eden, Cape Winelands en WP-distrikte se senior en junior vrouespanne plaasvind.
Verrigtinge skop af om 07:30 met die registrasie en inskietbane vir diegene wat 'n laaste paar verstellings wil aanbring. Die skiet behoort teen 15:00 afgehandel te wees waarna die prysuitdeling en aand se verrigtinge met 'n ete afgesluit word in Louvain se onthaalsaal.
Daar word ook die eerste keer 'n kategorie vir 'n standaard .222/223-kaliber voorsiening gemaak.
Inskrywings vind plaas op Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet se nasionale webblad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'