GEORGE NUUS - Drie plaaslike skole se netbalspanne is gereed om die nasionale verhoog, waar hul oog letterlik en figuurlik op die doel is, te betree.
Die o. 14A-span van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), Laerskool George-Suid se o. 12A-netbalspan en Laerskool Outeniqua se o. 13A-span is gekies om die Wes-Kaap tydens die nasionale been van die skolekampioenskappe te verteenwoordig.
Hierdie prestigebyeenkoms vind in twee dele plaas: o. 12- en o. 13-spanne meet kragte van 24 tot 26 Julie by Hoërskool Pietersburg in Polokwane, en o. 14- en o. 16-spanne ding mee van 31 Julie tot 2 Augustus by Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg.
Groot prestasie
Die Wes-Kaapse skoleligakampioenskappe het verlede naweek by Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes plaasgevind, en dit is hier waar die George-spanne hul staal gewys het!
Laerskool George-Suid se span het 'n algehele derde plek en Laerskool Outeniqua 'n vierde plek onder die laerskoolspanne behaal. Die Kwaggas spog met 'n algehele vierde plek onder hoërskole.
Laerskool Outeniqua se o. 13A-netbalspan is agter, van links: Hailey Ellman, Janie Kasselman, Alana Lubbe, Isabelle Nagel en Mienke Gerber. Voor: Anri Hefer, Christebell Ras, Jaime Swanepoel en afrigter Karin Pauw.
"Julle toewyding, passie en onwrikbare spanpoging het vrugte afgewerp," het Kwaggas se o. 14A-afrigter, Mandy du Plessis, gesê.
"Die hele skoolgemeenskap is trots op julle en ons weet julle sal ons met trots verteenwoordig."
Volgens Du Plessis was die weer maar koud en winderig, en die kompetisie was straf. "Ons het teen skole soos La Rochelle [Paarl] en Stellenberg [Durbanville] gespeel. Dit is die eerste keer in minstens vyf jaar wat ons gekies is."
Die span sien vreeslik uit na Boksburg en al die uitdagings wat dit bied. Die ander o. 14-hoërskoolspanne wat gekies is sluit in Hoërskool Durbanville, Girls' High (Paarl) en La Rochelle. Ander hoërskoolspanne, soos die o. 19s, moet nog op provinsiale vlak kragte meet.
Laerskool George-Suid se afrigter, Neva Bernstein, het gesê haar spelers het teen topspanne meegeding. "Ons sien uit om hulle weer in aksie te sien. Ons is trots op elkeen van hierdie Loeries."
Laerskool George-Suid se o. 12A-netbalspan: Agter van links is Kara van Niekerk, Chloé Marais, afrigter Neva Bernstein, Mariané Labuschagne en Mia Smit. Voor van links is Nicola Nel, Rebekah Steyls, Misha Eden en Cailtynn Hammon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’