GEORGE NUUS - 'n Nasionale naelloopkampioen van George, Stefan van Wyk (21), het na drie jaar se rus sy spykerskoene afgestof. Van Wyk word afgerig deur 'n bekende in die Suid-Afrikaanse atletiekkringe, Ans Botha van Bloemfontein, wat ook die olimpiese rekordhouer, Wayde van Niekerk, afrig.
Verder help Gerhard Gibson van George vir Van Wyk met sy oefenprogramme.
Op nasionale vlak is Van Wyk steeds die 400 m-rekordhouer en word hy deur die handelsreus, Puma, geborg.
Hy is tans besig om hard te oefen vir nasionale byeenkomste van Atletiek Suid-Afrika wat in Augustus begin, sowel as 32GI-padwedlope (handelsnaam van bekende sportvoeding) en landloopwedlope wat in Junie afskop. Sy spesialisveld is 200 m en 400 m naellope.
In die drie jaar wat Van Wyk 'n ruskans geneem het, het hy sy kwalifikasies in internasionale atletiekafrigting bekom en bemarking vir klerereekse van bekende handelsname gedoen, waaronder Boerboel, Modeoperandi en Puma.
"Die rus het my goed gedoen, ek kon my kop 'n bietjie skoonmaak, maar nou is dit tyd om hoër hoogtes te bereik," het hy gesê.
Met slegs twee maande se oefening agter die blad het Van Wyk op 14 Mei aan die nasionale Maties-atletiekbyeenkoms in Stellenbosch deelgeneem, waar hy goud in die o.23 en silwer in die senior mans, albei 200 m verwerf het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'