GEORGE NUUS - Die splinternuwe Living Ball-hindernisbaan by Tramonto in Geelhoutboom wat Vrydag open, sal 'n nuwe wêreld ontsluit vir fiksheidsfanatici en avontuurlustiges. Oud en jonk sal hulself by dié oefenpark kan uitleef.
'n Groepie leerders van Laerskool George-Suid het Maandag van die talle opsies wat die hindernisbaan bied, uitgetoets.
Jandré Blom, wat ten nouste by die ontwikkeling van die hindernisbaan betrokke is, het aan George Herald gesê die leerders is as't ware as "proefkonyne" gebruik om seker te maak die oefenapparaat werk en dat die veiligheidsmaatreëls in plek is.
Die hindernisbaan bied twee klimmure van 8 meter elk, 16 verskillende spanaktiwiteite, pyl- en boogskiet, uitdagende hindernisse en 'n fraai onthaalarea.
Blom sê die groot verskeidenheid opsies wat die baan bied, maak dit die ideale plek vir spanbousessies, spanoefeninge, ontgroeningskampe, verjaarsdagpartytjies, leierskapskursusse, kerkkampe en ander spesiale geleenthede. "Of 'n skool se eerste rugbyspan 'n "Kamp Staaldraad" hier wil aanbied of 'n klein besigheid sy mense met 'n taai spanbousessie wil laat sweet, dié baan bied dit. Vakansie- en naweekbesoekers is net so welkom om die klimmure aan te durf of oor die hindernisse te klouter."
Blom sê die idee met die hindernisbaan is om 'n veilige plek vir veral kinders te skep waar hulle nog kind kan wees. "As kind het ek nog die geleentheid gehad om na aan die natuur te leef en oor naweke in bome rond te klouter. Daardie dae is helaas verby.
"Deesdae kan mens nie jou kind met 'n geruste hart na 'n speelparkie stuur sonder om jou te bekommer dat iets met hulle kan gebeur nie. Met dié baan wil ons 'n veilige hawe skep waar kinders weer kan baljaar en wegkom van hul selfone en rekenaarspeletjies."
Vir enige navrae bel Jeandré Blom by 082 959 0111.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'