Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Laerskool Outeniqua loop breë bors rond. Een van dié skool se leerders, Lenka Viljoen, het onlangs tydens die SA laerskool-atletiekkampioenskappe wat in Potchefstroom plaasgevind het, twee goue medaljes in onderskeidelik spiesgooi en gewigstoot vir dogters o. 13 gewen.
Sy is boonop as die beste dogtersveldatleet aangewys.
Dit het ook later bekend geword dat sy opgeneem is in die SA skolegroepspan. Gewoonlik word deelnemers van o. 15 en o. 17 in die groep opgeneem. Sover bekend is dit vanjaar die eerste keer dat deelnemers van o. 13 opgeneem is.
Sy het eers in 2019 aan gewigstoot begin deelneem en in 2020 aan spiesgooi. Dat sy talentvol is, is duidelik want sy het vinnig opgang gemaak. Tydens die kampioenskappe in Potchefstroom het sy in die gewigstoot net 5 cm kort klaargemaak van die SA rekord in haar afdeling.
In 'n onderhoud met George Herald vroeër die week sê Lenka sy hou baie van die twee dissiplines en beskryf dit as moeilike tegniese sportsoorte.
"Dit gaan nie oor krag nie, maar oor tegniek. Tydens die Covid-19-inperkings het ek aanhou oefen. In die atletiekseisoen oefen ek sowat twee ure per dag. Ek gee dan aandag aan fiksheid en tegniek. Om suksesvol te wees, verg baie harde werk," het sy gesê.
Sy het 'n goeie ondersteuningspan. Haar ouers Francois en Verna Viljoen speel ook 'n groot rol. Dis danksy haar ma se aanmoediging dat sy aan gewigstoot begin deelneem het en sy het sommer met die intrapslag daarvan gehou. Sy het ook 'n ouer broer.
Haar gewigstootafrigter is Jacques Wolfvaardt en haar spiesgooiafrigter Zane Fourie. Sy oefen ook by Marie en Jurgens Swiegelaar.
Lenka se droom is om Suid-Afrika eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Haar akademie bly nie agterweë nie.
Dit is beaam deur André du Preez, sportorganiseerder by die skool. Du Preez het gesê dis baie unieke prestasies wat sy behaal. As deel van die SA groep gaan sy later teen ander Afrika-lande meeding.
Dr. Nico Venter, die skool se hoof, het gesê hulle is baie tots op Lenka. "Sy is 'n pragtig gemanierde en uiters toegewyde leerder."
Om haar prestasie in konteks te sien moet in gedagte gehou word daar is sowat 450 000 gr. 7-leerders in Suid-Afrika. Om twee eerste plekke te behaal en ook as die beste veldatleet aangewys te word is 'n besondere prestasie.
Lenka is voorneme om aanstaande jaar haar skoolloopbaan by Hoërskool Outeniqua voort te sit.
VIDEO: Lenka wen goud
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'