Drie toetse is in Wanneroo geskiet en twee in die Boyup Brook-distrik. Die standaard van die bane was baie hoog en die sportmangees van die Australiërs onberispelik. Uit 'n moontlike total van 27 000 punte, het die Proteas met 26 005 punte gewen. Dit is 'n aanduiding dat Australië in die toekoms 'n gedugte opponent kan word in hierdie skietsport wat wêreldwyd begin veld wen.
Uit die vyf toetse het Brink in twee toetse die hoogste telling geskiet.
Die voorkeurkaliber vir jaggeweerskiet in Australië is die 260 Remington terwyl die SA-span voorstanders van die 6XC is.
Jaggeweerskiet word aktief beoefen deur skuts wat met hul jaggewere na volgrootte papierteikens soos vlakvarke, springbokke, rooibokke en blesbokke skiet op afstande wat kan wissel van 50 tot 300 meter. Die kompetisies sluit ook twee "gong" bane in waar 200 MM-staalskywe opgehang word as teikens op afstande wat wissel van 200 m tot 350 m.
Daar word uit die lê-, sit-, en staanposisies geskiet en rotse en boomstompe word soms as ruste gebruik. Daar is geen beperking op gewere, teleskope en kalibers nie. Afstande na die teikens is onbekend en dit word aan die skut oorgelaat om afstande, windspoed en ander faktore te oordeel.
Die Suid-Kaap Ope vind hierdie jaar op 3 Oktober op Louvain plaas.
Jaco Brink (tweede van links), voorslagskut van George, was deel van die Protea Jaggeweerskietspan wat in April in vyf toetse teen Australië meegeding het. Brink het in twee toetse die hoogste telling geskiet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'