GEORGE NETBALNUUS - 'n Groot eer het Innis Erasmus (43), 'n bekende inwoner van George, te beurt geval. Erasmus is vanaf 1 September die hoëprestasie-bestuurder van Netbal Suid-Afrika.
Suid-Afrika bied in Julie/Augustus 2023 die Netbal Wêreldbeker-toernooi aan en sy aanstelling word as voorbereiding van die toernooi gesien.
Erasmus het al diep spore in sport getrap. Hy is van beroep 'n fisioterapeut en beskik ook oor 'n MBA (besigheidsbestuur).
Betrokkenheid by sport
Erasmus was in die verlede vir 16 jaar deel van die SWD Arende se bestuurspan. Hy was ook in 2004 by die Stormers betrokke en van 2005 tot 2007 by Saru (SA rugby). In 2017/2018 was hy by die Southern Kings-rugbyspan betrokke.
In 2019 was hy die fisioterapeut van die Namibiese rugbyspan by die Wêreld-bekertoernooi in Japan.
Erasmus het Maandag aan George Herald gesê hy is opgewonde oor die nuwe uitdaging en hy sal later meer besonderhede verskaf oor hoe hy die pad vorentoe sien.
Aanwins vir Netbal SA
Johann Lerm, 'n voormalige hoofafrigter van die SWD Arende, het gesê Erasmus is 'n groot aanwins vir Netbal Suid-Afrika.
Hy ken Erasmus in 'n beroepshoedanig-heid. Toe Lerm afrigter van die Arende was, was Erasmus vir die grootste deel van daardie tydperk die fisioterapeut van die span.
Volgens Lerm was hy nie net 'n goeie fisioterapeut nie, maar ook 'n klankbord vir die spelers en het hulle gehelp om gemotiveerd te bly en hul gesindheid te verbeter.
"Hy is 'n absolute kenner van sport-beserings. Wat my betref is hy 'n kundige wat sportbeserings, rehabilitasie en kondisionering, betref."
Destyds toe die Arende nie 'n kondisionerings-afrigter gehad het nie, het Erasmus met groot onderskeiding in die hoedanigheid ingestaan.
Volgens Lerm is Erasmus ook 'n goeie mense-bestuurder. Die pos wat hy nou beklee pas hom soos 'n handskoen. Hy het Erasmus beskryf as 'n meester in sy vakgebied.
A resident of George, Innis Erasmus has been appointed as the High Performance manager of Netball South Africa. He is a well-known resident and in the past he was amongst other involved in the management team of the SWD Eagles. His appointment comes to the background of the fact that South-Africa will host the Netball World Championships in July/August 2023.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'