GEORGE NUUS - Die senior rolbalspan van Eden wat onlangs vir die eerste keer ooit die goue medalje in die hoogs kompeterende nasionale interdistrikte kampioenskap vanaf Durban na Eden gebring het, is deur die Outeniqua-rolbalklub vir hul prestasie vereer en met 'n steakete vergas.
Die span het in die eindstryd teen die span van Noord-Gauteng te staan gekom en moes uithaal om as oorwinnaars uit die stryd te tree.
Die president van die klub, Greg Young, het na afloop van die funksie gesê dat hierdie span groot eer na Eden-rolbal gebring het en verdien om soos ware ambassadeurs vergas te word.
"Ons is baie trots op wat hierdie manne vir rolbal in ons streek beteken het. Hulle het ook bewys dat ons spelers met van die beste in die land kan kers vashou. Die hoop bestaan ook dat hierdie prestasie tot groot motivering vir veral die jonger spelers kan dien," het hy gesê.
Hierdie prestasie volg kort op nog 'n uitstekende prestasie van Eden-rolbal toe Billy Radloff (Outeniqua) en Elma Davis (George) onderskeidelik die mans- en dames-opekampioene geword het wat nog 'n eerste vir Eden-rolbal was.
Dit was deur die funksie duidelik dat die spanlede die goeie gebaar van die Outeniqua-rolbalklub waardeer.
Die goue senior rolbalspan van Eden tydens die funksie afgeneem. Van links verskyn Dirk Breedt, Piet Robberts, Hannes Bruwer, Japie Combrink, Kobus Kriel, Vlam Basson en Attie Nortje. Joos Taljaard, van Beaufort-Wes, kon nie die funksie bywoon nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'