GEORGE ROLBALNUUS - Die Eden-driespelkampioenskappe was vanjaar so kompeterend as kan kom en Outeniqua-rolbalklub is baie trots op die goue, silwer- en bronsmedaljes wat die klubspanne gebuit het.
Die halfeindstryd en eindstryde is in Hartenbos gespeel waar spanne van oor die streek in aksie was. Vier spanne van Outeniqua-rolbalklub, twee vrouespanne en twee mansspanne, het ingeskryf waarvan drie spanne tot die uitspeelstryde deurgedring het.
Die wedstryd wat die meeste aandag getrek en spannend verloop het, was die eindstryd tussen John Dampier, van Outeniqua, se span wat teen Bennie van Loggerenberg se span van George-rolbalklub te staan gekom het.
Met net twee koppe oor was die spanne gelyk met 15 punte elk. Die Outeniqua-span het egter in die laaste twee koppe hul beste spel gelewer en uiteindelik met 21-15 gewen.
Dampier se twee spanmaats was Greg Young en Das Barnard.
John Young (jr) se span met Japie Combrink en Alhan van der Merwe as spanmaats het die bronsmedalje gebuit.
In die vrouekompetisie het die span van Nan Roos met Val Nicholis en Dalene Fick die silwermedalje verwerf nadat hulle net-net in die eindstryd geklop is.
Die Outeniqua-span wat brons gebuit het, staan hier saam met Tom Strydom, president vanEden-rolbal (2de van regs). Die spanlede is van links: Japie Combrink, Alhan van der Merwe en John Young (jr).
John Dampier hou die trofee as Eden-driespelkampioene vas. Saam met hom is Greg Young, Das Barnard en Tom Strydom (Eden-president).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'