Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Suid-Afrikaanse Ope Rolbalkampioenskappe vir gestremde rolbalspelers is verlede week by die George- en Oudthoorn- rolbalklubs gehou. Die deelnemers aan hierdie jaarlikse prestige byeenkoms is almal op die een of ander wyse liggaamlik- en/of gesiggestrem.
Die liggaamlik gestremde spelers wissel van persone in 'n rolstoel, persone met krukke, persone met kunsledemate tot persone met permanente en onherstelbare liggaamlike ongeskiktheid. Die siggestremde spelers wissel van algehele blinde persone tot persone met 'n beperkte sig en/of diepte en wydte persepsie.
Die finale rondtes in al die afdelings is in heerlike sonskynweer verlede Saterdag by die George-rolbalklub gespeel.'n Span van die Israelse Vereniging van Blinde Rolbalspelers het onder die Israelse vlag deelgeneem en was gedugte teenstaanders vir die plaaslike spelers, wat van ooral in Suid-Afrika afkomstig is.
Goue-, silwer- en bronsmedaljes is aan die seëvierende en suksesvolle naaswenners oorhandig, waaronder die plaaslike spelers van George Rolbalklub, Chrystal Barlow en Ina le Roux, wat onderskeidelik silwer en brons saam met hulle paremaats in die vroue-pare vir liggaamlik gestremdes verower het.
Die wenners van die manspare vir liggaamlik gestremdes was Gareth Rees-Gibbs van Benoni Counry Club en sy paremaat Jarid James (Atlas-klub).
Die Nasionale Kampioenskappe vir Gestremdes vind aanstaand jaar in Ekurhuleni (Oosrand) plaas.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'