GEORGE NUUS - Twee hengelaars van George-hengelklub het Suid-Afrika se naam hoog gehou toe hulle uitstekend in die jaarlikse Gus Kollner-hengeltoernooi in Namibië presteer het.
Gerhard Faber en Pieter Muller het saam met die SA Presidentspanne na Namibië gereis om van 8 tot 12 Oktober deel te neem.
Faber het die SA President Ontwikkelingspan verteenwoordig en Muller was deel van die SA President Senior A-span.
Faber het sy afdeling gewen deur 18 visse met 'n algehele gewig van 296,9 kg te vang.
Gerhard Faber met die bronshaai van 96 kg wat hy 'n paar minute na sy 63,6 kg bronshaai gevang het.
Dit was ook die hoogste telling vir die hele toernooi met die wenner van die President Senior A-afdeling wat ook 18 visse gevang het, maar 'n gewig van 249,7 kg aangeteken het.
"Dit was my eerste keer wat ek aan die Gus Kollner-toernooi deelgeneem het en ek is baie gelukkig met die resultate. Dit was vir my 'n groot eer om as nuweling tussen soveel ervare hengelaars, die meeste gewig vir die toernooi te vang, maar ons almal weet volgende keer kan dit enige kant toe gaan," sê Faber.
Op die eerste dag van die kompetisie het Faber vyf visse gevang, maar op dag twee wou die visse niks weet nie.
"Dit was vir my moeilik na dag twee sonder enige vis, want dit voel of jy jou span in die steek gelaat het. Maar toe kry ek my kop reg en fokus op die laaste dag," sê Faber.
Op dag drie van die toernooi het die vis begin loop.
Hulle het om 07:30 begin tot 15:00. Van die eerste keer wat hy lyn natgemaak het, het die vis gebyt. Faber trek toe 13 visse uit met twee bronshaaie binne 'n uur. Die haaie het 63,6 kg en ongeveer 96 kg geweeg.
Pieter Muller het vierde in die President Senior A-afdeling geëindig met 17 visse met 'n totale gewig van 163,3 kg.
Tydens die Gus Kollner-hengeltoernooi is van links: Henno Snyman (gids), Pieter Muller en Morné Hugo..
Die President Senior A-span het tweede geëindig met 'n totale gewig van 793,5 kg versus Namibië se 882,8 kg.
Die SA President Ontwikkelingspan het hul afdeling gewen met 'n totaal van 1058,2 kg versus Namibië se 743,0 kg.
Die ontwikkelingspan se meer as een ton vis was die swaarste gewig van al die spanne wat in die toernooi deelgeneem het.
Hengelaars wat belangstel om die sport op 'n kompeterende vlak te beoefen kan vir Pieter Muller, sekretaris van George-hengelklub, kontak by 084 447 0417.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’