TUINROETE SPORT NUUS - Die boustene is gelê vir die totstandkoming van die Garden Route Sport Academy (GRSA) en planne om jong sporttalent op vele vlakke te ontgin vorder fluks.
Dié sportakademie is die breinkind van Eddie Myners, hoofafrigter van die SWD Arende. Verskeie plaaslike besighede het reeds hul gewig agter die groot projek ingegooi.
Myners het aan George Herald gesê die GRSA, 'n nie-winsgewende organisasie, is gestig na aanleiding van 'n behoefte aan 'n gevestigde struktuur om jong sporttalent in die Tuinroete te identifiseer, ontwikkel, monitor en te ondersteun. Hy sê in baie gevalle gaan goeie talent ten gronde as gevolg van die afwesigheid van goeie ondersteuningstrukture.
"Omstandighede soos die afwesigheid van 'n sterk vaderfiguur, asook tekort aan finansies in huishoudings, dryf hierdie talentvolle seuns en dogters in verkeerde rigtings na dwelms, alkohol en bendes."
Die doelstellings van die GRSA is onder andere:
- Die ontwikkeling en verbetering van vaardighede by jong atlete;
- Om atlete aan te spoor om 'n gesonde leefstyl met morele waardes uit te leef;
- Om professionele afrigting te bied aan atlete deur gekwalifiseerde afrigters;
- Om afrigters van verskeie sportsoorte as rolmodelle te ontwikkel;
- Om atlete te ondersteun om 'n doelgerigte toekoms na te streef.
Myners sê om sosiale euwels in gemeenskappe aan te spreek, is dit belangrik om sport as een van die hoekstene te gebruik.
Vir die begin sal daar eers op rugby, netbal, krieket, atletiek en sokker gefokus word.
Die akademie het tans uiters bekwame en gekwalifiseerde afrigters wat verskeie sportkodes op provinsiale en nasionale vlak afgerig het. "Die keuring van addisionele afrigters sal onder baie streng vereistes geskied aangesien die geskikte kandidate mense moet wees wie se norme, waardes en integriteit van kardinale belang is om met ons seuns en dogters te werk. Hulle moet rolmodelle en vaderfigure vir ons kinders wees," benadruk Myners.
Eddie Myners, hoofafrigter van die SWD Arende, is die stigter van die Garden Route Sport Academy.
Verskeie dienssentrums van die akademie sal in al die dorpe in die Tuinroete gevestig word met bekwame afrigters en gekwalifiseerde lewensstylafrigters om te verseker dat die totale mens ontwikkel word wat sport, akademie en lewensvaardighede insluit. Daar sal deeglike oefenprogramme opgestel word wat spesifiek konsentreer op die individu se behoeftes.
"Die groot doelstelling is om 'n verskil en bydrae in die lewens van talentvolle seuns en dogters in die Tuinroete te maak en sodoende hoop te vestig vir 'n doelgerigte toekoms vir elke individu en die breë gemeenskap daardeur positief te dien."
'n Amptelike ope dag word vir die nabye toekoms beplan waar streng Covid-19-protokolle sal geld.
Verskeie besighede is reeds betrokke. Sakelui en individue wat ook in enige hoedanigheid betrokke wil raak, kan gerus vir Eddie Myners bel op 079 415 2044 of by eddiemyners@gmail.com, Riaan Lameley 079 454 6661 of Herbert Nogqala 072 804 6926.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'