SPORTNUUS - Fish Eagle Aquatics het verlede naweek tydens die 44ste Freda Barnard-gala in Oudtshoorn hul veerkrag en talent gewys - nie net as die gasheerklub nie, maar ook as die toppresteerder van die geleentheid.
Die gala is van 9 tot 12 Oktober by die NA Smit-swembad gehou, met meer as 39 klubs van regoor Suid-Afrika wat deelgeneem het.
Daar was onder meer twee van die Vrystaat, een van Noordwes, drie van Gqeberha en vier uit die Eden-distrik. Die res was van regoor die Wes-Kaap, van Langebaan tot Stellenbosch.
Fish Eagle Aquatics het nie net die meeste punte aangeteken nie, maar ook die grootste aantal deelnemers gehad.
Die trofeë vir die junior victrix ludorum en senior victrix ludorum is onderskeidelik gewen deur die sussies Elke (11) en Isabeau Coetsee (13) van Garden Route Swim School, een van drie skole wat onder Fish Eagle ressorteer. Die ander onder dié sambreel is Freda Barnard Swemskool (Oudtshoorn) en Bubbles & Splashes (Mosselbaai).
Volgens Fish Eagle Aquatics se president, Tarita Pollicutte, was die naweek ’n groot sukses. “Die George-swemmer Carlo Bezuidenhout, het fenomenaal geswem en verskeie rekords gebreek,” het sy gesê. Bezuidenhout het vier Freda Barnard-rekords en twee Eden-rekords verbeter.
Swemmers daar waar hulle die gelukkigste is!
In totaal is 23 Freda Barnard-rekords oor die naweek verbeter, en elkeen is met ’n spesiale toekenning beloon. Die Coetsee-susters het self ook uitgestaan: Elke het drie Eden-rekords en een Freda Barnard-rekord gebreek, terwyl Isabeau twee Eden- en ses Freda Barnard-rekords verbeter het.
Die trofeë vir junior victrix ludorum en senior victrix ludorum is onderskeidelik gewen deur die sussies Elke (11) en Isabeau Coetsee (13) van Garden Route Swim School.
Die victor ludorum-titels vir die seuns is deur Noah Roman (14) en Tylan Daniel (12) van Alpha Swim Club in Kaapstad gewen.
Ander Eden-klubs wat deelgeneem het, sluit in Royal Swimming Academy, Knysna Aquatics en Waterbender Aquatics Club.
“Die weer was fantasties en die water heerlik warm,” het Pollicutte gesê. “Met bykans 400 swemmers en Meiringspoort wat dieselfde naweek plaasgevind het, is ons baie tevrede met die opkoms.”
Carlo Bezuidenhout (regs) ontvang die topklubtrofee van Lluwellyn Coetzee, president van Eden Aquatics, Western Cape Aquatics en uitvoerende lid van Swem Suid-Afrika.
Nog ’n hoogtepunt was die lewendige uitsending en groot skerm langs die swembad, wat oupas en oumas in staat gestel het om die aksie op YouTube te volg. Dit was ’n eerste vir hierdie geliefde gala.
Franna Vorster van Garden Route Swim School bars van trots. Sy swemskool is deel van Fish Eagle Aquatics, wat as die wenklub met die meeste punte aangewys is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’