SPORT NUUS - Die bekende paralimpiese atleet, Ernst van Dyk, gaan genooi word om deel te neem aan aanstaande jaar se Outeniqua-rolstoelwedren (OCC). Dit vind op Saterdag 24 Februarie in George plaas.
Vrae het ontstaan of Van Dyk wel aan die geleentheid gaan deelneem nadat hy onlangs aangedui het dat hy die einde van die jaar aan sy laaste mededingende marathon gaan deelneem.
Die organiseerders hoop dat Van Dyk wel weer betrokke sal wees in George in 2024.
Van Dyk het 'n lang verbintenis met die wedren in George en hy en wyle Esther Watson, wat die dryfkrag agter die wedren was, het sedert die begin 'n noue verbintenis gehad.
Die wedren is verlede jaar op Saterdag 15 Oktober by Carpe Diem skool gehou.
Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur van die OCC, het Dinsdag gesê dit gaan nie vanjaar plaasvind nie. Daar is besluit om dit te skuif na die tydskedule van die verlede toe dit gewoonlik in Februarie gehou is.
Die organiseerders sal graag wil hê dat Van Dyk in 2024 betrokke moet wees. "Ons gaan werklik probeer dat hy moontlik deelneem. Ernst is 'n belangrike vennoot en dit sal 'n groot eer wees as hy deelneem."
As deel van bewusmaking van die OCC-geleentheid sal 'n rolstoelgeleentheid in September tydens Mosselbaai se sportfees aangebied word.
Die plan is om tydens aanstaande jaar se OCC 'n sportfees te hou vir gestremdes waarby ander sportkodes ook betrek sal word.
Dippenaar het gesê die George-munisi-paliteit het reeds aangedui dat hy geld en logistieke ondersteuning beskikbaar sal stel. Lancewood en die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport sal ook betrokke wees om te help.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’