SPORT NUUS - Die bekende paralimpiese atleet, Ernst van Dyk, sal ongelukkig nie aanstaande jaar deelneem aan die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) nie.
Die gewilde rolstoelwedren vind op Saterdag 24 Februarie in George plaas.
Vrae het ontstaan of Van Dyk wel aan die geleentheid gaan deelneem nadat hy onlangs bekendgemaak het dat hy die einde van die jaar aan sy laaste mededingende marathon gaan deelneem.
Die organiseerders het vroeër die hoop uitgespreek dat Van Dyk wel weer betrokke sal wees in George in 2024. Van Dyk het 'n lang verbintenis met die wedren in George, en hy en wyle Esther Watson, wat die dryfkrag agter die wedren was, het sedert die begin 'n noue verbintenis gehad.
Van Dyk het Maandag 24 Julie gesê dat hy nie aanstaande jaar sal kan deelneem nie. Volgens hom hou dit verband met sy werkskedule wat daardie tyd van die jaar druk is.
Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur van die OCC, het gister (Woensdag) gesê dit is jammer dat Van Dyk nie sal kan deelneem nie. Van die ander groot name sal egter waarskynlik wel deelneem en meer besonderhede word later bekendgemaak.
Reëlings is op koers vir aanstaande jaar se geleentheid. Na verwagting sal sowat 200 deelnemers betrokke wees in die mededingende afdeling en sowat 600 in die pretafdeling.
Benewens die Suid-Afrikaners, sal spanne van Zimbabwe, Ghana en Namibië ook deelneem.
As deel van bewusmaking van die OCC-geleentheid vir 2024 sal 'n rolstoelgeleentheid in September vanjaar tydens Mosselbaai se sportfees aangebied word.
Die plan is steeds om tydens aanstaande jaar se OCC 'n sportfees te hou vir gestremdes waarby ander sportkodes ook betrek sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’