GEORGE NUUS - Die Eden-sportraad se jaarvergadering op Donderdag 25 Julie in George was nie net 'n geleentheid om terug te kyk op die prestasies van die afgelope jaar nie, maar ook 'n platform om die toekoms van sport in die streek te bespreek en te versterk.
Die sportraad beheer 47 sportfederasies en vier munisipale sportrade.
Tydens die geleentheid het die voorsitter, Desmond Speelman, die sakegemeenskap en munisipale rade bedank vir hul voortdurende ondersteuning van sport in die streek.
Hy het hulle aangemoedig om voort te gaan met hul bydraes tot die bevordering van sport en die ondersteuning van hul sportlui.
Ebrahim America, ondervoorsitter, het ook die federasies geprys vir hul onmisbare rol in die ontwikkeling van die sportambassadeurs. Hy het beklemtoon dat hierdie harde werk vrugte afwerp, soos gesien kan word in Suid-Afrikaanse atlete se deelname aan die Olimpiese Spele.
Christal Johannes het die lede verder herinner aan die belangrikheid van goeie regering en die toepas daarvan binne hul organisasies.
Sy het onderstreep dat sterk en etiese leierskap noodsaaklik is vir die sukses en volhoubaarheid van sportorganisasies.
By die vergadering is daar ook afskeid geneem van Dirk van der Westhuizen van die departement van kultuursake en sport, wat na 35 jaar diens die tuig neerlê.
Malcolm Pojie van Q-Sport het die bestuur bedank vir hul uitstekende leierskap en het genoem dat die Eden-sportraad weereens as die beste in die Wes-Kaap erken is.
Voor, van links: Zelda van Staden (sekretaresse), Ebrahim America (ondervoorsitter), Desmond Speelman (voorsitter), Christal Johannes (kassier) en Dave van der Waldt (erelid). Agter: Dirk van der Westhuizen (departement van kultuursake en sport), Barries Barnard (federasie verteenwoordiger), Stephanie McKay (federasie verteenwoordiger), Vivian Langeveldt (Sport vir gestremdes), Donavon Claassen (munisipale sportrade), Jean Neetling (departement kultuursake en sport).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’