GEORGE NUUS - Tydens die onlangse Desembervakansie het 108 spelers Eden verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse junior skaakkampioenskappe in Boksburg, waar ongeveer 2 300 spelers van 22 unies deelgeneem het.
Eden het 14 spanne ingeskryf wat hulle goed van hulle taak gekwyt het. Twee van die spanne het onder die topdrie geëindig. Die o.10A-span het 'n bronsmedalje verower en die o.12B-span het dieselfde punte gehad as die Westelike Provinsie, maar as gevolg van uitkloppotte (tie-breaks) het hulle 'n silwermedalje verower.
Verskeie van die Eden-spelers het ook bordpryse verower, wat beteken dat die speler op sy bord in sy ouderdomsgroep die beste gevaar het:
- o.10B - Anke van Rensburg, bord 4
- o.14B - Kevin Smit, bord 6
- o.12B - Lucian Geduld, bord 1 - geen wedstryd verloor nie
- o.12B -Thor Jordaan, bord 6
- o.18A - Sune Swart, bord 3 - geen wedstryd verloor nie
Vir een van Eden se getroue spelers, George Swart, was hierdie sy 10de SAJCC as deel van die Eden-span. Hy het sy laaste SAJCC afgesluit op bord 1 van die o. 20A-span, 'n uitsonderlike prestasie.
Hy het ook uitgeblink in die gelyktydige kategorie. (Dit is wanneer 'n groot aantal spelers tegelykertyd teen 'n grootmeester speel).
George het gelykop gespeel teen grootmeester Wesley So, die wêreld se 10de beste speler. Eden is baie trots sy hul spelers wat Eden se naam teen die groot unies hoog gehou het.
Die streek spreek weer sy opregte dank uit teenoor die ouers, spanbestuurders en afrigters vir hulle getroue onder-steuning en dat hulle die spanne so mooi han-teer het.
Die Eden o.10A-span het brons verwerf. Agter, van links: Alton Michaels (afrigter), Linda Jordaan (spanbestuurder), Handre Williams (George), Errol Du-Rand de Waal (George) en Hanko Scholtz (George). Voor: Marnu Marx (George), Leigh Ray Herman (Albertinia), Andreas Geyser (Oudtshoorn), Shenwin Petersen (George), Sydney Michaels (George) en Liam de Waal (George). Afwesig: Diego Bezuidenhout.
Die o.12B's het tweede plek behaal en 'n silwermedalje losgeslaan. Agter, van links: Cornelia Joseph (algemene bestuurder), Lucian Geduld (George), Jaden Valentine (Mosselbaai), Thor Jordaan (Oudtshoorn), Mea van Zyl (Weskus) en Marinda Williams (spanbestuurder). Voor: Jade Adams, (Hessequa), Jurian van den Heever (Hessequa), Reuben Daniels (Mosselbaai), Gabriella Jansen (Mosselbaai), Dominique Titus (Weskus) en Shaundré Lewaks (Weskus).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'