GEORGE NUUS - Die Eden-jaggeweerskietvereniging skop sy 2019-jaarprogram af met 'n kliniek op 2 Februarie wat spesifiek op die ontwikkeling van vroue en juniors in die Suid-Kaap gerig is.
Belangstellendes, wat ook mans insluit, word uitgenooi om op Saterdag 2 Februarie om 09:00 by Louvain in die bo-Langkloof aan te sluit.
Louvain is ongeveer 64 km vanaf Oudtshoorn en sowat 61 km vanaf George op die R62 in die rigting Uniondale.
Skuts moet iets te ete en drinke saambring en ook genoeg sonroom vir beskerming. Skietentoesiaste moet hul eie jaggewere en ongeveer 30 rondtes per persoon saambring. Die Eden-jaggeweerskietvereniging se nasionale en provinsiale skuts gaan belangstellendes in die staan-, sit-, kniel- en lêposisie touwys maak.
Alle ruste en teikens sal voorsien word. Daar gaan ook op staalplate tot op 350 m geskiet word.
Belangstellendes kan Junita van Zyl by 082 575 9299 of Chisto Delport by 079 498 6227 skakel. Hou ook hul Facebook-blad dop. Dié kliniek is 'n uitstekende kans om meer van skiet se geheime wenke te leer en ook hoe om by die Formule 1 van skietsporte betrokke te raak.
Die Eden-jaggeweerskietvereniging bied op 2 Februarie 'n kliniek by Louvain aan wat spesifiek op die ontwikkeling van vroue en juniors in die Suid-Kaap gerig is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'