GEORGE ROLBALNUUS - George-rolbalklub het die somer ingewy met drie aande se rolbal onder spreiligte.
Daar is op elk van die drie aande een wedstryd van driespel gespeel.
Die algehele wenners was die span van Marthie en Tys Pringle wat saam met Phyllis Thompson 'n totaal van 53 punte aangeteken het.
In die tweede plek, ook met 53 punte, was die span van Alan Dissel met Jill en Jimmy Power. Die wenner moes met 'n skootgemiddeld bepaal word aangesien albei spanne ewe veel punte gehad het.
Die span van Riaan Laing met Johan Meyer en Anne-Marie Palmer het derde geëindig.
Danksy 'n ruim borgskap van Golden Harvest het die meeste spelers, of hulle gewen of verloor het, met minstens een bottel uitvoerrooiwyn weggestap. Angelique van Loggerenberg van Golden Harvest het die wyn tydens die prysuitdeling oorhandig.
Die wenners van die driespeltoernooi wat by die George-rolbalklub aangebied is, was Tys en Marthie Pringle en Phyllis Thompson met Angelique van Loggerenberg (links) van die borg, Golden Harvest. Regs staan John Mundell, die hooforganiseerder van die aandspel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'