"Rugbyliefhebbers kan uitsien na 'n naweek se opwindende skolerugby met 'n karnavalatmosfeer wat sal heers," het Deon Carelse, hooforganiseerder, die week gesê.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het 32 stelle truie, broekies en sokkies aan die deelnemende skole geskenk. Mervin Green van Saru sê hy is baie trots op hierdie inisiatief wat uit eie geledere ontstaan het en hoop dat die toernooi 'n belangrike rol in die ontginning van plaaslike rugbytalent kan speel.
Die president van die SWDRVU, Hennie Baartman, sê die gemeenskap moet die toernooi wat nou jaarliks aangebied sal word, ondersteun en ekonomies lewensvatbaar maak.
Die ANC-parlementslid vir Oudtshoorn, Corra Dikgacwi, het op sy beurt gesê: "Sport in die landelike gebiede moet gebruik word om die jeug konstruktief besig te hou. Daarmee kan ons help om hulle weg te hou van die baie verkeerde dinge soos dwelms, drank en bendebetrokkenheid."
Volgens Carelse, die dryfveer van die Zibi Sewes wat verlede jaar vir die eerste keer deur BSS aangebied is, sal agt o.13, agt o.16 en sestien o.19-skoolspanne deelneem.
Registrasie vind vanoggend by die skool plaas waarna die spanne om 13:00 na die sportterrein sal stap. Die eerste wedstryde begin om 14:00.
Môre se aksie begin reeds om 08:30 en die amptelike openingseremonie vind plaas om 12:30 met onder andere musiekoptredes deur Loukmaan Adams, broer van Emo Adams, Marsha Lombard, Supersterre finalis in 2010, Paul Amass en Vrinne, asook ook talle plaaslike kunstenaars.
Die eindstryde begin om 15:30.
Volgens Carelse sal daar genoeg kosstalletjies, musiek- en dansoptredes asook kindervermaak wees met lewendige uitsendings deur EDENfm.
Toegang is R10 vir volwassenes en R5 vir leerders in skoolklere, andersins ook R10.

Saam met die verteenwoordigers van die skole wat aan die 2013 Zibi's Sewes gaan deel neem sit voor van links: Deon Carelse, Corra Mdikgacwi, Hennie Baartman, Mervin Green en Kelly Ellis van BSS.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'