GEORGE NUUS - Reëlings is op koers vir die Aktiewe Sportdag vir Bejaardes wat op 12 Julie by Outeniquapark plaasvind.
Die geleentheid sal vanjaar groter as vantevore wees en voorsiening word gemaak vir bykomende sportsoorte soos netbal en sokker. Daar sal ook 'n geleentheid wees om bordspeletjies te speel.
Die Aktiewe Sportdag vir Bejaardes is verlede Donderdag tydens 'n vergadering van die reëlingskomitee bespreek.
Op 12 Julie sal 'n span gekies word om George te verteenwoordig by die Streeks Golden Games.
Blanche Benjamin van die reëlingskomitee het Maandag aangekondig dat daar in verskeie sportsoorte meegeding sal word, soos jukskei en hardloopitems. Die hardloopitems sluit in 100 m, 200 m, 800 m en aflosse. Deelnemers moet 60 jaar en ouer wees om deel te neem.
Mans en dames sal afsonderlik meeding by die geleentheid, verdeel in ouderdomsgroepe 60 tot 69 en 70-plus. Hierdie jaar se geleentheid in George betrek 16 bejaarde dienssentrums en 'n aantal bejaarde sportklubs, met deelnemers wat selfs so ver as Uniondale kom.
Die Aktiewe Sportdag vir Bejaardes word jaarliks aangebied sedert sy ontstaan in 2006.
Volgens Benjamin beteken die geleentheid baie vir die deelnemers.
Daar is bejaardes wat in die verlede aktief aan sport deelgeneem het, en hierdie geleentheid gee hulle die kans om weer mededingend te wees. Dit wys ook dat bejaardes nog 'n bydrae aan die samelewing kan lewer en maak mense bewus van die uitdagings wat bejaardes ervaar.
Benjamin doen 'n beroep op alle bejaardes om betrokke te raak.
Vir meer inligting kontak Blanche Benjamin by Blanchbenjamin@gmail.com of Annelie Bennett van Tuiniqua Versorgingsentrum by service@tuiniqua.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’