GEORGE NUUS - As die gholfwêreld nog nie behoorlik kennis geneem het van Christo Lamprecht van George nie, gaan hulle dit beslis nou doen.
Die 22-jarige boorling van George het behoorlik verlede week die oë by die Britse Ope laat rek. Op Donderdag 13 Julie was hy na die eerste ronde die gesamentlike voorloper.
Daarna het dit nie so goed gegaan soos in die eerste ronde nie, maar nieteenstaande het sy naam in die annale van die toernooi verewig toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat die silwermedalje in die roemryke geskiedenis van die toernooi van meer as 150 jaar ontvang het. Dit is omdat hy die voorste amateur was.
Hy was die enigste van die ses amateurs wat oorleef het toe die afsnypunt Vrydag 14 Julie bepaal is.
Met sy prestasie word sy naam nou genoem in dieselfde asem as spelers soos José María Olazábal, Tiger Woods, Justin Rose, Rory McIlroy en Matthew Fitzpatrick wat almal in die verlede die silwermedaljes verower het. Dit is natuurlik niks vreemds om so 'n goeie gholfspeler uit die Suid-Kaap te sien nie.
In die verlede is al selfs verwys na die Suid-Kaap se "gholffabriek". Name uit die gebied wat al hul merk gemaak het sluit in Ernie Els, Jovan Rebula, Louis Oosthuizen en Branden Grace. En nou Lamprecht.
Voor sy jongste prestasie het hy verlede maand gekwalifiseer vir die Britse Ope toe hy die Britse amateurtitel in Engeland gewen het.
In 2017 was hy die jongste wenner tot nog toe van die Suid-Afrikaanse amateurkampioenskap.
Lamprecht het Dinsdag 25 Julie teruggekeer na sy wortels hier in George. Hy was hier op skool en sy ouers woon ook nog hier.
Hy het aan George Herald gesê as hy sy deelname aan die Britse Ope moet opsom is dit in een woord: Ongelooflik. Hy was bietjie teleurgesteld hoe hy die drie dae na Donderdag gevaar het. In die geheel gesien is hy egter baie trots en veral omdat hy die eerste Suid-Afrikaner was wat die silwermedalje kon verower.
Hy is nou vir sowat twee weke by die huis voordat hy na Amerika terugkeer om sy B.Com studies in Atlanta voor te sit. Dis nou sy finale studiejaar en hy sal dit in Mei/Junie aanstaande jaar voltooi. Die plan is dat hy daarna beroepsgholf gaan speel.
Hy was op skool al sportmal. Enige bal wat hop het hom opgewonde gemaak. Op laerskool het hy selfs Cravenweek gespeel en op heelagter uitgedraf.
Op hoërskool het sy fokus na gholf verskuif en in 2019 het hy aan Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) gematrikuleer.
Volgens hom kan sy sukses toegeskryf word aan harde werk en oefen.
Hy is opgewonde om weer by die huis te wees en wil 'n draai op sy swaer se plaas gaan maak. Daar wil hy vars lug inasem.
Dit gaan ook aangenaam wees om net te ontspan, te kuier en weer bietjie braaivleis te geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’