KRIEKET NUUS - SWD-krieket (SWDK) het Saterdagaand, 10 Junie, sy jaarlikse toekenningsaand in die De Opstal Restaurant Lodge net buite die dorp gehou.
Verskeie provinsiale, klub- sowel as skoolspelers is by die geleentheid vereer vir hul uitstekende vertonings gedurende die afgelope seisoen.
Die spoggeleentheid is deur verskeie klubvoorsitters, spelers, borge en familielede van ontslape lede bygewoon.
Onder die eregaste was Rudy Claassen (SWDK-president), Simon Swigelaar (erepresident), Albertus Kennedy (uitvoerende bestuurder), Johan Weyers (voormalige uitvoerende beampte) en verskeie SWDK-raadslede.
Claassen, wat einde Julie sy termyn as president voltooi, het ook sy laaste toekenningsgeleentheid in die hoedanigheid bygewoon.
Pacaltsdorp United het met die Premierliga-trofee weggestap, terwyl Union Stars se C-span as die kampioenspan in die Promosieliga gekroon is.
Spesiale eretoekennings is aan verskeie ontslape lede toegeken, onder ander aan Jannie Meyer, voormalige George Herald-sportredakteur.
Drie lede van die Hessequa-streek is ook vereer. Hennie Pieterse van Riversdal is as SWDK se skeidsregter van die jaar aangewys, Angelo Busch van Melkhoutfontein-krieketklub is vir die vierde agtereenvolgende jaar as baanopsigter van die jaar aangewys, terwyl Suid-Kaap Forum-korrespondent Clive Pretorius, 'n stigterslid van Heidelberg United-krieketklub en ook 'n erepresident, vir sy jare lange bydrae tot die bevordering tot krieket vereer is.
Rudy Claassen (links), SWDK-president, en Heinrich Hartnick (derde van links) staan hier by Clive Pretorius (tweede van links) wat vir sy jare lange bydrae en toewyding aan krieket vereer is. Angelo Busch (regs) is as die baanopsigter van die jaar aangewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’