KRIEKET NUUS - Die grootste T10-kriekettoernooi in die Suid-Kaap, die Southern Cape Cricket Bash, het die afgelope naweek van 28 tot 30 Maart vir die derde keer in die streek plaasgevind.
Die toernooi is deur die High Performance Future Stars (HPFS) Krieketakademie aangebied en jong atlete van regoor die Suid-Kaap, asook al die pad van Albertina en Upington het die geleentheid met beide hand aangegryp.
Spelers van tussen vyf en 19-jarige ouderdom het in drie o. 11, vier o. 13 en drie seniorspanne meegeding.
Die jongelinge het dinge in Hartenbos uitgespook terwyl die seniors mekaar in George die stryd aangesê het. Deel van die pret was dat wedstryde in verskillende formate van krieket plaasgevind het.
o. 11-spanne
Die o. 11-spanne het Vrydag dinge afgeskop met 25 boulbeurt wedstryde. Saterdag en Sondag het hulle oorgeskuif na die T10-formaat.
Hier het die top-2-spanne, die Sunrisers en Crushers, in 'n uitstekende eindstryd kragte gemeet. Die Crushers het eerste gekolf en 'n stewige 90 lopies in hul toegelate 10 boulbeurte aangeteken. Daniel Harmse, wat 37 lopies aangeteken het, was die Crushers se uitblink-kolwer. Maar, die Sunrisers was gereed vir die uitdaging en het die wedstryd met vyf paaltjies gewen om ook as die wenners van die o. 11-
toernooi uit die stryd te tree. Hulle beste kolwer was Niklaas Mey wat
69 lopies aangeteken het.
Die George Giants. Nathan Wooff en Bismark Potgieter was afwesig.
o. 13-spanne
Die vier spanne wat aan die o. 13-
toernooi deelgeneem het was net so kompeterend. In twee tawwe kwarteindrondes het die Southern Scorpions die George Giants uitoorlê terwyl die Capitals die Daredevils ore aangesit het.
Die eindstryd is Sondag om 15:00 tussen die Southern Scorpions en die Capitals beslis. Hier was die gif in die skerpioene se angels te veel vir die Capitals en het die Southern Scorpions met 'n 20-lopie oorwinning weggestap. Leagan Fortuin wat vir die Southern Scorpions 45 lopies van net 30 balle aangeteken het, was die ster-kolwer van die wedstryd.
Die Southern Scorpions en die Capitals wat in die eindstryd van die o. 13-toernooi kragte gemeet het.
Seniorkompetisie
Die drie spanne van aan die seniorkompetisie deelgeneem het het in 'n T10-formaat gespeel. Idan Balzan het 198 lopies aangeteken en is as kolwer van die toernooi aangewys. Caleb Mapolie is met agt paaltjie aan sy kerfstok as bouler van die toernooi aangewys.
HPFS se Sané Griffiths het gesê die Southern Cape Cricket Bash word aangebied om krieket en die liefde vir krieket in die Suid-Kaap te bevorder.
Die toernooi is die grootste van sy soort in die streek en is verlede jaar in Maart vir die eerste keer aangebied en toe weer in September.
Griffiths sê hulle hoop om die toernooi twee keer per jaar aan te bied om sodoende krieket in die streek tot sy volle potensiaal te bevorder.
Topkolwers
o. 11 - Niklaas Mey (361 lopies)
o. 13 - Leagan Fortuin (118 lopies)
Senior - Idan Balzun (198 lopies)
Topboulers
o. 11 - Daniel Harmse (5 paaltjies)
o. 13 - Wihandré Nel (7 paaltjies)
Seniors - Caleb Mapolie (8 paaltjies).
Die George Giants in blou en die Southern Scorpions in wit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’