KRIEKETNUUS - 'n Groot eer het Piet Botha, hoofafrigter van die Six Gun Grill Garden Route Badgers, te beurt geval.
Botha sal vanaf 1 Mei die nasionale krieketspan se boulafrigter wees.
Die 56-jarige Botha sal die uittredende boulafrigter Charl Langeveldt opvolg ná volgende maand se reeks teen die Wes-Indiese Eilande. Botha, 'n man met baie krieketervaring, het in Julie 2022 by die Badgers aangesluit. Onder sy afrigting het die Badgers hul eerste trofee in die professionele struktuur gewen.
Die span wat in Oudtshoorn gebaseer is, was seëvierend in Krieket Suid-Afrika se Divisie 2-eendagkom-petisie na 'n wedstryd teen die Tuskers in Pietermaritzburg.
Sy liefde vir krieket kom reeds van sy skooldae in Meyerton af. Na skool het hy onder meer krieket vir die destydse RAU wat deesdae UJ is, gespeel. Hy het ook vir die destydse Transvaal diens gedoen en in 'n stadium vir die SA plattelandse span gespeel.
Botha het ook vir Grens gespeel en by afrigting betrokke geraak. In 'n stadium het Botha OP se span afgerig.
Van 2010 tot 2022 was hy by die SA nasionale A-span se afrigting betrokke.
Botha het sy dank teenoor die raad van direkteure, die personeel en die spelers van SWD-krieket uitgespreek om die afgelope paar maande in die streek te kon afrig.
Hy het Dinsdag aan George Herald gesê hy sien baie uit na die nuwe uitdaging. Volgens hom is boul tegnies tot op 'n punt. Elke speler benader dit verskillend.
Op die vraag wat hy die meeste van hou, speel of afrigting, het hy gesê dit is twee verskillende aspekte. Hy hou van beide.
Botha is optimisties oor die toekoms van krieket in Suid-Afrika. Daar is jong spelers wat deurkom.
Rudy Claassen, president van SWD-krieket, het Botha gelukgewens met sy aanstelling.
Ofskoon SWD teleurgesteld is dat hy weggaan, is die unie baie dankbaar vir die nuwe opwindende geleentheid en het hom bedank vir sy hulp en hom sterkte toegewens vir die pad vorentoe.
Botha in die oefennette.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’