SPORT NUUS - Ses Parkdene-krieketspanne sal mekaar vanaf Sondag 11 Oktober by Orion Oval die stryd aansê in die eerste Day One Parkdene-vlakkiekriekettoernooi.
Die toernooi duur agt weke en is daarop gemik om plaaslike sporttalent, jeugontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder.
Die deelnemende spanne is Parkdene Royals, Green Blasters, Parks United, Parkdene Sunrisers, Parkdene Challengers en Young Guns.
'n Openingsplegtigheid sal die toernooi op 11 Oktober om 08:00 afskop, waarna die eerste wedstryd om 09:00 begin. Parkdene Royals en Green Blasters kom in die eerste wedstryd teen mekaar te staan, gevolg deur Parks United teen Parkdene Sunrisers. Parkdene Challengers en Young Guns sluit die dag se wedstryde af.
Die top vier spanne ná die ligafase dring deur na die halfeindronde. Dit word gevolg deur 'n derdeplek-wedstryd en die groot eindstryd.
Jeugontwikkeling vorm 'n belangrike deel van die inisiatief. Elke span moet minstens een o. 13-speler en twee o. 18-spelers insluit. Volgens die stigter van Day One, Maxwell Matiwane, bied dit aan jong spelers die geleentheid om waardevolle wedstrydervaring op te doen en saam met meer ervare spelers te ontwikkel.
"Die inisiatief strek ook verder as die krieketveld. Halfpad deur die toernooi word 'n teruggeedag beplan wanneer spelers en spanne iets positiefs vir die Parkdene-gemeenskap sal doen," sê Matiwane.
Besighede word ook genooi om by die inisiatief betrokke te raak. "Day One se doelwit is om die toernooi as 'n jaarlikse gemeenskapsplatform te vestig wat jong talent, plaaslike spelers en die breër Parkdene-gemeenskap ondersteun.
"Ons bou nie net 'n toernooi nie, maar 'n nalatenskap vir die gemeenskap," sê Matiwane.
Die halfeindstryde, derdeplek-wedstryd en eindstryd sal regstreeks gestroom word om ondersteuners wat dit nie persoonlik kan bywoon nie, die geleentheid te gee om die aksie te volg.
Maxwell Matiwane. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’