GEORGE ATLETIEKNUUS - Twee puik atlete van die Hoërskool Outeniqua, Stefan van Wyk en Nolene van Rensburg het hul loopbane as skole-atlete op 'n hoogtepunt afgesluit as lede van die Wes-Kaapse atletiekspan.
Die twee matrikulante was ook vir die soveelste keer deel van die handjie vol atlete van Hoërskool Outeniqua wat gekies is om die Wes-Kaapse atletiekspan op nasionale vlak te verteenwoordig met Stefan die enigste seunsatleet van die skool in die span. Hulle het aan die SA skolebyeenkoms gedurende Maart en die SA junior-byeenkoms deelgeneem.
Nolene het by beide byeenkomste 'n goue medalje ontvang in die 10 km-stap vir vroue o.20, wat ook die item is waarin sy spesialiseer. Stefan, die voormalige SA skolekampioen in die 400 m het onderskeidelik dubbel silwer ontvang by die SA skolebyeenkoms.
Hy het twee jaar gelede reeds 'n borgskapkontrak van Puma Suid-Afrika ontvang. Hy beoog om sy studies aan die Universiteit van Pretoria voort te sit en sy atletiektalent daar verder te ontwikkel.
Nolene is tans besig om haar opsies oop te hou vir verdere studies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'