Gallery
GEORGE NUUS - Atlete en hul gesinne het verlede naweek hierheen gestroom vir die George Outeniqua-marathon.
Meer as 1 500 atlete het ons landlooproetes verken en deelnemers kon nie uitgepraat raak oor die natuurskoon en skilderagtige omgewing nie.
Vanjaar se inskrywings is sowat 400 meer as die hoogste getal inskrywings wat nog ontvang is.
Die wedlope bestaan uit ’n marathon (42,2 km), halfmarathon, 10 km en 5 km-roetes, en word aangebied deur Outeniqua Harriers Multi-sportklub, George-munisipaliteit en Universal Kitchens.
GALERY - Outeniqua Marathon 'n gunsteling onder atlete
Die marathon het by Cornerstone Lifestyle Centre in Blanco begin, deur woonbuurte gekronkel, oor die Tuinroete-dam, deur die gronde van Nelson Mandela Universiteit en dele van die Sewe Passe-pad, tot by die Wilderness Commonage, waar al die wedlope geëindig het.
Die 21,1 km het by die Tuinroete-dam se damwal begin, terwyl die 10 km en 5 km-pretloop by Wilderness Commonage plaasgevind het. Perfekte weer het die dag vergemaklik.
John April van Oudtshoorn (regs), wenner van die 42,2 km, groet die fotograaf in die verbyhardloop. Etienne Plaatjies hardloop gemaklik saam met April. Foto: Deidre Cloete
Wenners
John April van Oudtshoorn het die 42,2 km vir die vierde keer gewen in 2:31:10, gevolg deur Lehlohonolo Phokojoe (2:40:32) en David Andrews (2:43:05) van Langebaan-atletiekklub.
Die plaaslike atleet Carla Spannenberg van Nedbank-atletiekklub het die damesafdeling oorheers in 3:05:32.
Chané Bosman (Nedbank) is tweede met ’n tyd van 3.09.37 en ’n vorige wenner van Carbineers WP, Candice Hall, derde met ’n tyd van 3.18.07.
Die 21,1 km is gewen deur Sivugile Qule (1:16:04) van Plettenbergbaai en Melissa van Rensburg (1:28:36) van Nedbank-atletiekklub, terwyl Francois Maquassa (31:43; Nedbank) en Cherise Carreira (38:43) van Boxer-atletiekklub die 10 km gewen het.
Hierdie atlete is reg vir die marathon! Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’