ATLETIEK NUUS - Tiaan en Jolene Jansen bars van trots oor hul seun, Usain (9) wat sy pa se hardloopgene geërf het.
Die passievolle middelafstandatleet het sedert hy vier jaar gelede in gr. 1 begin hardloop het nog nooit 'n Wes-Kaapse landloop of 1 200 m-kampioenskap verloor nie.
Gevolglik het hy al vier keer vir die nasionale kampioenskappe gekwalifiseer en drie keer deelgeneem waar hy een silwermedalje en twee vierde plekke behaal het. By die mees onlangse nasionale atletiekkampioenskap in Germiston het die o. 10-atleet karakter vêr bo sy ouderdom gewys.
Soos sy naam aandui is die langasem na die beroemde Jamaikaanse atleet, Usain Bolt (wat deur menige kenners as die beste naelloper ooit beskou word) vernoem. Sy pa verduidelik hulle wou vir Usain graag na 'n bekende middelafstandatleet vernoem het.
Weens die volksvreemdheid van dié atlete se name het hulle besluit om hul seun liewer na die agt-keer Olimpiese goue medalje-wenner en wêreldrekordhouer in die 100 m, 200 m en 4 x 100 m-aflos, Usain Bolt, te vernoem.
Usain, 'n gr. 4-leerling aan Heidedal Primêr, was van kleins af sportief en veral lief vir sokker. Dit was die skool se voor-malige sportonderwyseres, Sharon Losper, wat Usain se talent raakgesien en hom destyds in gr. 1 aangemoedig het om aan atletiek deel te neem. Die eerste drie jaar was dit net landloop, want kinders neem eers van o. 10 af aan baanitems deel. Nadat hy sy eerste nasionale landloopkampioenskap in Mpumalanga uitgesit het, het hy in sy tweede jaar in Gqeberha 'n silwermedalje in die o. 8-wedloop verower.
In sy o. 9- en o. 10-jare verdien hy vierde plekke onderskeidelik in Vanderbijlpark en Germiston.
'n Trotse spannetjie - Jolene, Tiaan en Usain Jansen met Avril Davids regs. F
Onlangse kampioenskappe
Dit was egter by die onlangse SASA en LSEN laerskole nasionale kampioenskappe wat van 20 tot 22 Maart in Germiston gehou is waar Usain nie net waardevolle taktiese lesse geleer het nie, maar ook sy ware kleure gewys het.
Nadat hy sy uitdunrondte gewen het, het hy homself in die eindrondte as die voorloper bevind. Alles het goed gegaan tot 'n ander atleet hom blykbaar kort voor die aanbreek van die laaste rondte (500 m voor die einde van die 1 200 m-wedloop en reg voor die hoofpawiljoen) gestamp het. Usain het sy balans verloor en neergeslaan. Hy het dapper opgespring en op sy heel vinnigste gehardloop om die atlete wat hom met die val verbygesteek het in te haal en die wenstreep in die vierde plek oor te steek - 'n skamele vyf sekondes agter die wenner.
Die feit dat Usain vinniger opgestaan het as wat hy geval het, sê Avril Davids van die ASWD Nedbank-atletiekklub, wys Usain het die regte gesindheid om vêr te kom.
Toekoms
Davids sê die volgende stap is om op die een of ander manier vir Usain 'n GPS-horlosie te kry wat hom sal help om sy pas en afstand beter te reguleer sodat hy sy eie wedloop kan hardloop. Dan moet hulle ook begin kyk na spykerskoene vir die baan en goeie hardlooptekkies vir landloop. Dan is voeding ook belangrik want 'n mens se liggaam het goeie kwaliteit brandstof nodig om op sy beste te presteer.
Usain se ouers is werkloos en het tot dusvêr berge versit om hul seun te laat deelneem en sy weg na 'n beter toekoms te baan. Hulle hoop dat 'n goeie hoërskool sy prestasies uiteindelik sal raaksien en hom sal werf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’